Christene wat in die Naam van die Here Jesus Byeenkom
Edwin N. Cross


- Christene wat in die Naam van die Here Jesus Byeenkom
- Watter soort mense is hierdie Christene?
- Is hulle beter as ander Christene?
- Waarom wil hierdie Christene nie 'n spesiale naam hê nie?
- Wat is die Leerstelling van hierdie Christene?
- Watter doelwit het hierdie Christene?
- Waarom Denominasies verlaat?
- Vorm hierdie Christene nie 'n nuwe sekte nie?
- Wat is die grondslag wat God erken?
- Wan wanneer af het die Kerk bestaan?
- Wat gebeur by hierdie Byeenkomste?
- Ervaar hulle nie chaos nie?
- Wie kwalifiseer vir lidmaatskap?
- Wat is jou Reaksie?
Christene wat in die Naam van die Here Jesus Byeenkom
Jesus Christus, die Seun van die lewende God, het 'n wonderlike belofte aan gelowiges gegee in Matthéüs 18 vers 20, "Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde".
Die betekenis van hierdie belofte is dat Hy in realiteit die goddelike middelpunt is waar Christene saamkom.
Word Hy dan onder alle omstandighede erken as Here, selfs in sake wat van minder belang is? Dit is ongelukkig nie altyd die geval nie. Tog is daar Christene wat slegs in die Naam van die Here Jesus saamkom. Elke Sondag vier hulle die nagmaal van die Here. Hulle bid gereeld saam en volhard in die leerstellings van die apostels in dieselfde gees as wat gelowiges dit aan die begin van die Christelike kerk gedoen het (Handelinge 2 vers 42).
Watter soort mense is hierdie Christene?
Hulle is mense wat erken dat hulle sondaars voor die aangesig van 'n heilige God is. Hulle het geglo dat Jesus Christus hulle sondes in sy liggaam op die kruis gedra het (1 Petrus 2 vers 24). Hulle het hulle skuld teenoor God bely en weet deur die geloof dat hulle vergewe en van alle ongeregtigheid gereinig is (1 Johannes 1 vers 9). Deur Christus te ontvang het hulle die reg gekry om kinders van God genoem te word, omdat hulle deur die werking van die Heilige Gees uit God gebore is (Johannes 1 verse 12 en 13). Deur middel van die offer van Jesus Christus is hulle eens en vir altyd geheilig (Hebreërs 10 vers 10).
Is hulle beter as ander Christene?
NEE - hulle is nie beter nie, nie uit hulleself nie. Hulle kan slegs roem in die genade van God wat hulle vrygemaak en bewaar het, en waarop hulle kan staatmaak wanneer hulle, ongelukkig, faal.
Hulle weet dat "die vlees", die ou verdorwe menslike natuur wat nie beter kan word nie, steeds met hulle is en dat hulle die Here oneer sal aandoen indien hulle nie versigtig is nie. Maar dank God, Christene het ook 'n nuwe natuur waarvan beter dinge verwag kan word (Efésiërs 2 vers 10). Hulle het hoë agting vir alle ware kinders van God en het hulle lief. Hulle weet dat hulle met hulle verenig is as lede van "die liggaam van Christus". Die prakties uitdrukking hiervan word betreurenswaardig deur onskriftuurlike leerstellings of gebruike verhinder.
Waarom wil hierdie Christene nie 'n spesiale naam hê nie?
Omdat die Bybel dit uitdruklik veroordeel om verskillende name en groepe te hê, "Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos - is julle nie vleeslik nie? Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het?" (1 Korinthiërs 3 verse 4 en 5) .
"... en die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem" (Handelinge 11 vers 26).
Vir hierdie redes wil hulle slegs die naam "Christen" dra, en nie vernoem word na mense, plekke of leerstellings nie. Verdeeldheid van enige aard is baie duidelik in kontras met die leerstelling en gees van die Nuwe Testament.
Wat is die Leerstelling van hierdie Christene?
Hulle leerstelling is die Woord van God (hulle enigste geloofsbelydenis is die Bybel). Vir hulle is die Bybel die geïnspireerde en onfeilbare Woord van God.
Hierdie Woord is hulle enigste gids vir alle leerstellige vrae en daaglikse lewenswyse.
"Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid" (2 Timótheüs 3 vers 16).
Hulle glo dat Jesus Christus die ewige Seun van God is, ontvang van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria. Hy het gely, gesterwe en opgestaan uit die dood en sit nou aan die regterhand van God die Vader.
Watter doelwit het hierdie Christene?
Hulle doelwit is om die weg te volg wat in die Bybel aangedui word.
Die gevolg hiervan was dat sommige Christene bestaande denominasies verlaat het omdat hierdie denominasies in leerstelling en praktyk nie geheel en al die gesag van die Here Jesus en die Heilige Gees aanvaar nie. Op grond van wat die Bybel leer, sien hulle dat alle gelowiges priesters is en hierdie dienswerk mag beoefen.
Almal wat weergebore is - alle ware Christene - is lewende stene in 'n geestelike huis en as sodanig 'n heilige priesterdom wat geestelike offers bring wat vir God aanvaarbaar is deur Jesus Christus (1 Petrus 2 vers 5).
Waarom Denominasies verlaat?
God haat die vermenging van lig en duisternis, gelowige en ongelowige, soos die apostel Paulus geskryf het, "Want watter deel het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? ... of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?" (2 Korinthiërs 6 verse 14 en 15).
Wanneer gelowiges in gemeenskap is met mense wat openlik in sonde leef, of wat verkeerde dinge oor die Persoon en versoeningswerk van Jesus Christus leer, kan hulle God nie eer soos wat dit Hom behaag nie.
Daarom sê God, "Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid" (2 Timótheüs 2 vers 19).
Vorm hierdie Christene nie 'n nuwe sekte nie?
Die Bybel definiëer 'n sekte (of 'n partyskap) as diegene wat 'n besondere mensgemaakte leerstelling of 'n persoon aanhang (Handelinge 5 vers 17, 15 vers 5, Titus 3 verse 9, 10 en 11, en 1 Korinthiërs 3 verse 3, 4 en 21).
Ons vorm nie 'n nuwe denominasie wanneer ons terugkeer na dit wat aan die begin van die era van die kerk deur die apostels geleer en beoefen is nie. Sonder die bemiddeling van menslike instansies, maar slegs op grond van die Bybel, is die Christendom reeds te ver verdeeld en wil hulle dit nie vererger nie. Hulle wil die eenheid van die Heilige Gees en die band van die vrede bewaar (Efésiërs 4 vers 3). Wanneer ons hierdie eenheid wil beoefen moet ons doen wat die Bybel sê en dit beteken afsondering van alle mensgemaakte godsdienstige instansies en organisasies.
Wat is die grondslag wat God erken?
Ons lees van die eerste Christene, "En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede" (Handelinge 2 vers 42). Ons lees voorts rakende die eenheid van die kerk, "Dit is een liggaam en een Gees, EEN geloof, EEN doop, EEN God en Vader van almal" (Efésiërs 4 verse 4, 5, en 6).
"God het die liggaam saamgestel ... sodat daar geen verdeeldheid aan die liggaam mag wees nie" (1 Korinthiërs 12 verse 24 en 25).
"Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie" (1 Korinthiërs 1 vers 10). "... dat almal een mag wees ..." (Johannes 17 vers 21).
Van wanneer af het die Kerk bestaan?
Die Here Jesus het aan Petrus gesê, "... op hierdie rots sal Ek my gemeente bou" (Mathéüs 16 vers 18). Deur hierdie woorde word aangedui dat die kerk nog nie bestaan het nie. Die fondament van die kerk, of gemeente, as die huis van die Here is deur die apostels en profete van die Nuwe Testament gebou (Efésiërs 2 verse 19 en 20). Paulus het aan die gemeente in Korinthe geskryf, "Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus" (1 Korinthiërs 3 vers 11). Die "verjaardag" van die kerk val saam met die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag, soos beskryf word in Handelinge 2. Hy leef in die gemeente, die tempel van God (1 Korinthiërs 3 vers 16).
Wat gebeur by hierdie Byeenkomste?
Christene wat in die geloof op die belofte van die Here Jesus vertrou wanneer hulle in sy Naam saamkom (Matthéüs 18 vers 20), laat nie die leiding van hulle byeenkomste aan een of ander leier wat deur mense aangestel is, oor nie. Indien Hebreërs 2 vers 12 waar is, is daar geen ander leier nodig nie. Daar is geen aanduiding in die Nuwe Testament dat enige indiwidu deur God of mense aangestel is om leiding te neem in die aanbidding van God, nóg enige aanduiding dat slegs een persoon al die gawes van die Heilige Gees moet beoefen nie. Dit wil voorkom asof hulle wat voltyds in die diens van die Here was (m.a w. nie 'n sekulêre betrekking beklee het nie), evangeliste en kerkplanters was en nie spesiale funksies uitgeoefen óf besondere ampte beklee het waar ander uitgesluit was nie. Die gedagte van predikers en leke is vreemd aan die Nuwe Testament. Paulus het aan die gemeente geskryf, "Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging laat alles tot stigting geskied" (1 Korinthiërs 14 vers 26).
Ervaar hulle nie chaos nie?
Wanneer Christene hulleself onderwerp aan godgegewe opdragte en hulleself verlaat op die leiding van die Heilige Gees (Romeine 8 vers 5), gee Hy sy onderneming dat alles op 'n ordelike wyse sal geskied, "want God is nie 'n God van wanorde nie, maar van vrede" (1 Korinthiërs 14 vers 33).
Wanneer die Woord op hierdie basis bedien word sal die godgegewe gawes van daardie manne wat profete, herders of leraars is, tot gevolg hê dat die heiliges toegerus en die liggaam van Christus opgebou word (Efésiërs 4 verse 11 en 12, en 1 Korinthiërs 14 vers 29).
Hierdie gelowiges gehoorsaam die opdrag dat vrouens nie toegelaat word om in die byeenkoms van die gemeente te spreek nie (1 Korinthiërs 14 vers 34).
Wie kwalifiseer vir lidmaatskap?
Hierdie Christene vorm nie 'n mensgemaakte organisasie waarvan iemand 'n lidmaat word, omdat die Bybel dit nie voorskryf nie. Wat die Woord van God betref, is die gemeente die liggaam van Christus, waaraan alle ware kinders van God behoort.
"Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar" (Romeine 12 verse 4 en 5).
"WANT net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam" (1 Korinthiërs 12 verse 12 en 13).
Wat is jou Reaksie?
Indien jy bereid is om hierdie weg van gehoorsaamheid te volg, die weg wat God in sy onfeilbare Woord aandui, wees dan soos die gelowiges in Beréa - "Hulle het die Woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die skrifte ondersoek of hierdie dinge so was (Handelinge 17 vers 11).
Oordink die volgende baie belangrike vraag biddend: - Waar en hoe moet gelowiges byeenkom?
God sal sy wil duidelik aan jou bekend maak. Daar is twee eenvoudige voorwaardes: - Wees eerlik voor die aangesig van God en buig in gehoorsaamheid voor die Woord van God.
- Christene wat in die Naam van die Here Jesus Byeenkom: Uit Nederlands vertaal en verwerk in Engels deur E.N.Cross © 1980.
- Afrikaanse vertaling deur Jaap Taljaard. Hersien deur Prof. Johan S. Malan - Eerste uitgawe in Afrikaans, 2003.
- Uitgawe in Engels - ISBN 0 947588 02 7, © 1980, 1985, 1988, 1989, 2003 - Alle regte voorbehou
- Skrifaanhalings is uit die standaardvertaling van die Afrikaanse Bybel (1933 uitgawe soos in 1953 hersien).
- Uitgawes tot op datum: Nederlands, Bulu, Chichewa, Chinees, Engels, Frans, Italiaans, Duits, Noors, Otatela, Pools, Russies, Slawies, Spaans, Sweeds. Meer as een miljoen in Druk.
- Genesis Revolution, P.O. Box 2234, Alberton 1450, Republic of South Africa) 0027 11 907 2064, ) & fax 0027 11 869 1605
Further help and a contact in your area may be obtained from the publisher:
Chapter Two, Fountain House, Conduit Mews, London, SE18 7AP, Engeland) ++44[0]20 8316 5389, fax ++44[0]20 8854 5963