Veiligheid, Sekerheid en Genot

George Cutting

“WATTER KLAS REIS U?”

Hoe dikwels word hierdie vraag nie gestel nie! Laat my toe om u die vraag te stel, liewe leser; want dat u op reis is, is zeker-op reis van die tyd na die ewigheid, en wie weet hoe naby, hoe baie naby die groot endstasie u op hierdie oomblik is! Laat my u dan in alle liefde vra, ‘Watter klas reis u?’ Daar is net drie klasse. Ek sal hulle beskryf, sodat u uself kan ondersoek, as ‘t ware, in die teenwoordigheid van ‘Hom met Wie u te doen het.’

1ste Klas.– Wie gered is en dit weet.

2de Klas. – Wie nie seker is van die verlossing nie, maar verlang om seker te wees.

3de Klas. – Wie nie alleen ongered is nie, maar totaal onverskillig daaromtrent.

Weer herhaal ek my vraag, ‘Watter klas reis u?’ O die dwaasheid van onverskilligheid, wanneer u ewige belange op die spel staan!

Ek sit onlangs in ‘n trein en ‘n man kom uit alle mag aangehardloop. Uit-asem neem hy sy plek teenoor my in, net toe die trein op die punt was om te vertrek.

‘U was amper te laat,’ sê een van sy medereisigers vir hom.

‘Ja,’ was sy antwoord, nog half uit-asem, ‘maar ek het vier uur gespaar, en dis wel die moeite werd om daarvoor te hardloop.’

Vier uur gespaar! Ek kon nie nalaat om die woorde by myself te herhaal nie; so hard gehardloop net vir ‘vier uur’! Wat omtrent die ewigheid? Ja, wat omtrent die ewigheid? En tog is daar vandag duisende bekwame, vérsiende mense wat alle nodige maatreëls tref in verband met hulle tydelike belange, maar totaal blind skyn te wees omtrent die ewigheid wat voor hulle is. Ten spyte van die oneindige liefde wat God teenoor hulpelose sondaars op Gólgota geopenbaar het; ten spyte van sy diepe haat en afkeer van die sonde; ten spyte van die feit dat die mens maar ‘n kort tydjie hier op die aarde is; ten spyte van die verskriklike oordeel na die dood en die ernstige moontlikheid wat daar bestaan om eindelik met ondraaglike selfverwyt in die hel wakker te skrik, vanwaar daargeen terugkeer is nie; ten spyte van dit alles jaag die mens voort tot die einde toe met ‘n onverskilligheid asof daar geen God, geen dood, geen oordeel, geen hemel en geen hel is nie! As die leser van hierdie bladsye miskien so iemand is, mag God u dan op hierdie oomblik genadig wees, en u oë open onderwyl u hierdie reëls lees om die haglikheid van u posisie in te sien, daar u miskien op die glibberige rand staan van onbeskryflike ellende!

O, my vriende, u kan dit glo of nie, maar u posisie is inderdaad gevaarlik! Stel die gedagte van die ewigheid nie langer uit nie. Onthou dat uitstel net soos die Satan is, wat u daarmee bedrieg. Hy is nie alleen ‘n dief nie, maar ‘n moordenaar. ‘Môre is nog ‘n dag lei na die landstreek van Nimmer,’ sê ‘n Spaanse spreekwoord tereg, want waarlik ‘uitstel bring ‘n mens nêrens nie.’ Ek smeek u, liewe leser, om tog nie langer uit te stel nie. ‘Kyk, nou is die dag van verlossing.’

‘Maar,’ sê iemand miskien, ‘ek is nie onverskillig omtrent my sieleheil nie. My groot moeilikheid lê opgeslote in ‘n ander woord

ONSEKERHEID;

d.w.s. ek is onder die 2de klas passagiers van wie u praat.

Wel, leser, sowel onverskilligheid as onsekerheid spruit uit ongeloof. Die eerstgenoemde is die gevolg van ongeloof omtrent die sonde en verderf van die mens; die laasgenoemde is die gevolg van ongeloof met betrekking tot die soewereine geneesmiddel van God vir die mens. Dis veral vir siele wat voor God verlang om ten volle en geheel-en-al seker te wees van hul verlossing, dat hierdie bladsye geskryf is. Ek kan in groot mate u sielstoestand en moeilikheid begryp en is daarvan oortuig dat hoe meer u in erns is omtrent hierdie allerbelangrikste saak, des te groter sal u dors wees, totdat u seker weet dat u waarlik en vir ewig gered is. ‘Want wat zal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?’

Sê nou die enigste seun van ‘n toegewyde vader is op see en daar kom ‘n berig dat sy skip op ‘n vreemde kus gestrand het. Wie kan die spanning en angst van die vaderhart beskrywe, totdat hy uit die allerbetroubaarste bron die versekering kry dat sy kind veilig en gesond is?

Af sê byvoorbeeld u is ver van huis. Dis ‘n donker wintersnag en u pad is heeltemal onbekend. U staan by twee kruispaaie en vra vir iemand wat daar verbygaan watter pad na die dorp lei wat u wil bereik. Hy sê hy dink dat ‘n sekere pad die regte is en hoop dat u sal regkom as u dit volg. Sal ‘dink’ en ‘hoop’ en ‘as’ u bevredig? Nee, volstrek nie. U moet sekerheid hê daaromtrent, anders sal elke stap wat u neem u angs net groter maak. Geen wonder dan dat mense soms nie kan eet of slaap nie, wanneer die ewige veiligheid van die siel in die weegskaal is.

‘Jouw rykdom te verloor is swaar,

Om krank te wees kwel die gemoed;

Maar wie sy siel moet skade ly

Verloor wat niemand kan vergoed.’

Nou is daar drie dinge wat ek onder leiding van die Heilige Gees aan u wil duidelijk maak; en in die taal van die Skrif is dit soos volg:-

(1) Die weg van verlossing. Hand. 16 vs. 17.

(2) Die kennis van verlossing. Lukas 1 vs. 77.

(3) Die vreugde van u heil (of verlossing). Psalm 51 vs. 14.

Ek meen ons sal sien dat, ofskoon hulle baie nou aan mekaar verbonde is, elkeen tog op ‘n afsonderlike basis staan; sodat dit heel moontlik is vir ‘n siel om die weg van verlossing te ken, sonder om seker te wees dat hyself gered is; of weer, om te weet dat hy gered is sonder om op alle tye die vreugde te besit, wat dié kennis behoort te verskaf. Laat my dan ten eerste kortliks praat oor

DIE WEG VAN VERLOSSING

Slaan asseblief u Bybel oop, en lees noukeurig die 13de vers van die 13de hoofstuk van Exodus; daar vind u die volgende woorde: ‘Elke eersteling van ‘n esel moet jy met ‘n lam loskoop. En as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Maar al die eersgeborenes van mense onder jou seuns moet jy loskoop.’

Kom nou met my terug in die verbeelding na ‘n toneel, wat ons sal veronderstel 3000 jaar gelede plaasgevind het. Twee manne, die een ‘n priester van God en die ander ‘n arme Israeliet, staan in ernstige gesprek met mekaar. Laat ons met hulle verlof, nader staan en hoor wat hulle praat. Die gebare van albei wys dat hulle diep ernstig is en ‘n gewigtige saak bespreek. Dis ook nie moeilik om te sien nie dat die onderwerp van hulle bespreking ‘n klein eseltjie is, wat digteby staan en bewe.

‘Ek kom u vra,’ sê die arme Israeliet, ‘of daar tog nie hierdie eenmaal ‘n genadige uitsondering ten gunste van my gemaak kan word nie. Hierdie arme dingetjie is die eersteling van my esel en, ofskoon ek goed weet wat die wet van God daaromtrent sê, hoop ek tog dat daar genade sal wees en dat die eseltjie se lewe gespaar sal word. Ek is maar ‘n arm man in Israel en kan die vulletjie beswaarlik verloor.’

‘Maar,’ antwoord die priester beslis, ‘die wet van God sê duidelik: ‘Elke eersteling van ‘n esel moet jy met ‘n lam loskoop: en as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek.’ Waar is die lam?’

‘Ag, meneer, ek besit nie ‘n lam nie!’

‘Gaan koop dan een en kom weer terug, of anders moet die esel se nek sekerlik gebreek word. Die lam moet sterf of die esel moet sterf.’

‘Helaas! Dan is al myn hoop verydel,’ roep hy uit; ‘want ek is glad te arm om ‘n lam te koop.’

Onderwyl hierdie gesprek voortgaan, kom daar ‘n derde persoon by hulle en, nadat hy die arme man se treurige verhaal gehoor het, sê hy vriendelik: ‘Hou goeie moed; ek kan jou help.’ En hy vervolg verder: ‘Ons het in ons huis daar op die heuvel ‘n klein lammetjie, wat ons in die huis hans grootgemaak het. Hy is sonder gebrek en vlekkeloos. Nooit het hy een enkele keer van die huis weggeloop nie, en almal in die huis het hom regtig baie lief. Ek sal hierdie lam gaan haal.’ En hy loop haastig die heuwel op. ‘n Rukkie later sien ons hoe hy die mooi, klein diertje versigtig teen die hang af lei en spoedig staan die lam en die esel langs mekaar.

Daarna word die lam aan die altaar vastgebind, en sy bloed word gestort en die vuur verteer dit.

Die regtverdige priester wend hom vervolgens na die arm man en sê: ‘Jy kan jou klein eseltjie vry en veilig huis-toe neem; sy nek hoef nou nie gebreek te wordt nie. Die lam het gesterf in die esel se plek, en gevolglik kan die esel regverdig vrygestel word. Dit is net aan jou vriend te danke.’

Nou, arme, onrustige siel, kan u nie hierin die eie voorstelling van God sien van ‘n sondaar se verlossing nie? Sy eis met betrekking tot u sonde was ‘n ‘gebreekte nek’- dit wil sê, sy regverdige oordeel op u skuldige hoof; die enigste uitweg was die dood van ‘n plaasvervanger deur God goedgekeur. Uself kon geen geskikte redmiddel vir u geval vind nie, maar in sy dierbare Seun het God Self die Lam voorsien. ‘Daar is die Lam van God,’ sê Johannes vir sy dissipels, toe sy oë op die volsalige, vleklose Persoon val, ‘Daar is die Lam van God wat de sonde van die wêreld wegneem!’ Joh. 1 vs. 29.

Voorwaarts na Gólgota het Hy gegaan, ‘Soos ‘n Lam wat na die slagplek gelei word’; en daar het Hy toe ‘Eenmaal vir die sondes gely, Hy, die Regverdige, vir die onregverdiges, om ons tot God te bring.’ 1 Petrus 3 vs. 18. ‘Wat oorgelewer is terwille van ons misdade en opgewek is terwille van ons regverdigmaking.’ Rom. 4 vs. 25. Sodat God nie in die geringste mate Sy regverdige, heilige eise teen die sonde verminder nie, wanneer Hy die goddelose sondaar wat in Jesus glo, regverdig maak, d.w.s. Wanneer Hy hom vrystel van alle beskuldiginge teen hom. Rom. 3 vs. 26. Geloof sy God vir so ‘n Verlosser, so ‘n verlossing!

‘Glo jy in die Seun van God?’ (Joh. 9 vs. 35). U sê altemit: ‘As ‘n veroordeelde sondaar het ek in Hom iemand gevind, wat ek gerus kan vertrou. Ja, ek glo in Hom.’

Dan kan ik u verseker dat God die volle waarde van sy offerande en dood, volgens die waarde wat Hy daaraan heg, u toereken, asof u dit alles self volbring het.

O, hoe ‘n wonderbare weg van verlossing is dit! Is dit nie groot, en heerlik en goddelik, God Self waardig nie - die bevrediging van sy eie hart van liefde sowel as die verheerliking van sy dierbare Seun, en die verlossing van ‘n sondaar, alles saam verbonde? Hoe ‘n samesmelting van genade en heerlikheid! Geloof sy die God en Vader van onse Here Jesus Christus, wat dit so beskik het dat sy eie geliefde Seun al die werk moes verrig en al die lof ontvang, opdat u en ek, arme, skuldige sondaars, wat in Hom glo, nie alleen al die seën kan deelagtig word nie, maar die salige geselskap van die Saligmaker vir altyd en vir ewig kan geniet: ‘Maak die Here saam met my groot, en laat ons same sy Naam verhoog!’ Psalm 34 vs. 3

SEKERHEID

Maar u anstige vraag kan wees: ‘Hoekom is dit dan dat, aangesien ek waarlik myself en my eie werke wantrou en geheel-en-al op Christus en sy werk vertrou, ek nie die volle sekerheid van my verlossing het nie?’ U sê: ‘As my gevoelens my in staat stel om te sê dat ek een dag gered is, sal hulle gewis die volgende dag alle hoop vernietig en ek verkeer in die toestand van ‘n skip sonder anker op ‘n stormagtige see.’

A! dis juis daar waar die fout lê. Het u al ooit van ‘n kaptein gehoor wat ‘n ankerplek soek deur die anker binne-in die skip vas te maak? Nog nooit nie! Altyd buitekant.

Dit kan wees dat u heeltemal duidelik verstaan dat dit die dood van Christus alleen is wat u veiligheid gee; maar u dink dat dit u gevoelens is wat u sekerheid gee. Neem nou weer u Bybel want ek wil graag hê dat u in Gods Woord moet sien hoe Hy ‘n mens die kennis van die verlossing gee.

Voordat u die vers naslaan wat ek u baie noukeurig wil laat lees en wat sê hoe ‘n gelowige moet weet dat hy die ewige lewe het, wil ek eers dieselfde vers op ‘n verdraaide manier aanhaal soos die mens dit dikwels in sy verbeelding voorstel.

‘Hierdie gelukkige gevoelens het Ek gegee aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het.’

Slaan nou die Bybel oop, en terwyl u dit vergelyk met die geseënde, onveranderlike Woord van God, mag Hy u uit die diepte van u hart laat sê met Dawid:

‘Twyfelaars haat ek, maar U wet het ek lief.’ (Psalm 119 vs. 113).

Die vers wat ek netnou verkeerd aangehaal het, vind u in die 1ste sendbrief van Johannes, hoofstuk 5 vers 13, en dit lui soos volg:

‘Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het.’

Hoe het die eersgeborenes van die duisende van Israel met sekerheid geweet dat hulle veilig was gedurende die nag van die Pasga en Egipte se oordeel?

Laat ons twee van hulle huise besoek en hoor wat hulle te sê het.

Ons vind in die eerste huis wat ons binnetree dat hulle almal beef van angs en onsekerheid. Wat is die geheim van al hierdie bleekheid en onsteltenis? Laat ons ondersoek doen. Die eersgeborene deel ons mee dat die verderwer die land sou deurtrek en dat hy nie heeltemal seker is hoe sake op daardie ernstige oomblik met hom sal staan nie.

‘Wanneer die verderwer by ons huis verbygetrek het,’ sê hy, ‘en die nag van die oordeel verby is, dan sal ek weet dat ek veilig is; maar ek kan nie insien hoe ek heeltemal seker daarvan kan wese voor dié tyd nie. Hulle beweer in die huis naasaan dat hulle seker IS van die verlossing, maar ons meen dit is verwaandheid. Al wat ek kan doen is om die lang, somber nag deur te maak en die beste te hoop.’

‘Maar,’ vra ons, ‘het die God van Israel dan nie ‘n weg van veiligheid vir sy volk verskaf nie?’

‘Ja,’ antwoord hy, ‘en ons het gebruik gemaak van daardie weg van ontvlugting. Die bloed van die jaaroud-lammetjie sonder gebrek is noukeurig met die bossie hisop aan die bodrumpel en aan die twee deurposte gestryk, maar nogtans is ons nie heeltemal seker van beskerming nie.’

Laat ons nou hierdie twyfelmoedige, onrustige mense verlaat en die huis naasaan binnetree. Hoe ‘n treffende kontras bemerk ons dadelik daar. Vrede rus op elke aangesig. Hulle staan daar met hulle heupe omgord en hul staf in hul hand en eet van die gebraaide lam. Wat kan die betekenis wees van al hierdie gerustheid op so ‘n ernstige nag as hierdie?

‘Kijk,’ sê hulle almal, ‘ons wag net op Jehova se orders om te trek, om dan ‘n laaste vaarwel te sê aan die wrede gésel van die werkmeester en al die harde arbeid van Egipte!’

‘Maar wag! Vergeet julle dat dit die nag is van Egipte se oordeel?’

‘Dit weet ons alteseker; maar ons eersgeborene is veilig. Die bloed is gestryk volgens die wens van ons God.’

‘Maar,’ antwoord ons, ‘dit het die mense naasaan ook gedoen; nogtans is hulle almal diep ongelukkig, omdat hulle almal onseker is van hul veiligheid.’

‘A!’ antwoord die eersgeborene beslis, ‘MAAR ONS HET MEER AS DIE GESTRYKTE BLOED; ONS HET DIE ONFEILBARE WOORD VAN GOD DAAROMTRENT. God het gesê: ‘Wanneer Ek die bloed sien, sal Ek by die deur verbygaan.’ God rus tevrede met die bloed buite en ons rus tevrede met sy Woord binne.’

Die gestrykte bloed maak ons veilig.

Die gesproke woord maak ons seker.

Kan iets ons veiliger maak as die gestrykte bloed, of sekerder as sy gesproke Woord? Nee, niks, niks nie.

Laat my u nou ‘n vraag stel. Hoe dink u, watter een van daardie twee huise was die veiligste? Sê u nommer twee, waar almal so gerus was?

Nee, dan begaan u ‘n fout.

Hulle was albei ewe veilig.

Hulle veiligheid hang af van wat God dink van die bloed daarbuite en nie van die toestand van hulle gevoelens daarbinne nie.

As u sekerheid verlang aangaande u eie saligheid, moet dan tog nie gehoor gee aan die wisselvallige getuienis van innerlike gevoelens nie maar aan die onfeilbare getuienis van die Woord van God.

‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.’ Joh. 6 vs. 47.

Laat my toe om u ‘n eenvoudige opheldering te gee uit die daaglikse lewe. ‘n Sekere boer in die distrik het nie genoeg gras vir sy vee nie en doen gevolglik aansoek om ‘n mooi stuk weiveld wat, na hy verneem, naby sy huis te huur is. ‘n Tydlank ontvang hy geen antwoord van die eienaar nie maar eendag kom ‘n buurman in en hy sê: ‘Ek voel heeltemal seker dat jy die weiveld sal kry. Onthou jy dan nie hoe hy jou laaste Krismis ‘n spesiale stuk wild present gestuur het nie, en dat hy jou ‘n besondere knik van herkenning gegee het toe hy nou die dag hier verbygery het?’

En met soortgelyke woorde word die boer se hart vol vurige hoop.

Dog die volgende dag kom ‘n ander buurman hom teë en in die loop van die gesprek sê hy: ‘Ek vrees daar bestaan maar min kans dat jy daardie weiveld gaan kry. Meneer P- het aansoek gedoen daarom, en jy weet tog self hoe ‘n gunsteling hy is van die eienaar ... besoek hom af en toe’... ens. En die vurige verwagtings van die arme boer word verydel en dit bars soos seepblasies. Een dag is hy hoopvol, die volgende dag vol verontrustende twyfel.

‘n Rukkie later kom die posbode en die boer se hart klop vinnig toe hy die seël van die brief breek, want hy sien aan die handskrif dat dit van die eienaar self kom. Kyk hoe verander sy gesig van angstige onsekerheid tot onbewimpelde blydskap onderwyl hy die brief lees en herlees.

‘Nou is dit ‘n besliste saak,’ roep hy uit vir sy vrou: ‘daar bestaan nou geen twyfel of vrees meer oor die saak nie; verwagtings en veronderstellings is nou afgelope sake. Die eienaar sê die weiveld is myne solank as ek dit nodig het teen die billikste terme, en dis genoeg vir my. Nou steur ek my nie aan enigeen se opinie nie. Sy woord stel alles vas.’

Hoeveel siele is daar nie in ‘n soortgelyke toestand as die arme, bekommerde boer nie, heen en weer geslinger en verontrus deur die opinies van mense of deur die gedagtes en gevoelens van sy eie verraderlike hart? En dis slegs wanneer ons die Woord van God aanneem dat sekerheid die plek inneem van alle twyfelinge en veronderstellings. Wanneer God spreek, moet daar sekerheid wees, of Hy nou ook die oordeel uitspreek van die ongelowige of die verlossing van ‘n gelowige.

‘Vir ewig, O HERE, staan u woord vas in die hemele.’ (Psalm 119 vs. 89); en vir die gelowige, wat eenvoudig van hart is, stel sy Woord alles vas. ‘Sou Hy iets sê, en dit nie doen nie? Of spreek en dit nie waar maak nie?’ Num. 23 vs. 19.

‘Ek vra geen ander argument,

Geen ander pleitgrond meer-

Genoeg dat Jesus Self vir my

Gesterf het ... Hy, die Heer.’

Daarby kan die gelowige voeg:

‘EN DAT GOD DIT SE!’

Maar hoe kan ek seker wees dat ek die regte soort geloof het?

Wel, daar kan net een antwoord op die vraag wees: nl. Het u vertroue in die regte persoon; d.w.s. in die dierbare Seun van God?

Dis nie ‘n saak van hoe groot of hoedanig u geloof is nie, maar van die vertroubaarheid van die persoon in wie u u vertroue stel. Die een man klem aan Christus vas, as ‘t ware, met die greep van ‘n drenkeling. ‘n Ander raak net die soom van sy kleed aan; maar die sondaar wat Hom soos die eersgenoemde aangryp, is geensins veiliger as die laasgenoemde nie. Hulle het albei tot dieselfde ontdekking gekom; nl. dat, terwyl alles wat van die mens afhang, geheel-en-al onvertroubaar is, hulle gerus kan vertrou op Christus; kalm kan berus op sy Woord, en hulle met die grootste gerustheid kan verlaat op die ewige onfeilbaarheid van die werk wat Hy volbring het. Dit is wat bedoel word deur in Hom te glo. ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.’ Joh. 6 vs. 47. Maak dus seker daarvan dat u vertroue nie gestel word in u eie poginge om uself te verbeter nie, u godsdienstige waarnemings, u vrome gevoelens wanneer u onder godsdienstige invloede verkeer, u sedelike opleiding van u jeug af en dergelike dinge. Want u kan die sterkste geloof hê in enigeen van hierdie dinge of in hulle almal tesame en tog vir ewig verlore gaan. Moet uself nie bedrieg met ‘n mooi vertoning in die vlees nie. Die gebrekkigste geloof in Christus red vir ewig, terwyl die sterkste geloof in enigiets anders slegs die uitspruitsel is van ‘n bedroë hart, slegs die blare en takke deur die vyand gerangskik bo-oor die vanggat van die ewige verderf.

In die evangelie stel God eenvoudig die Here Jesus Christus aan u voor en sê, ‘Dit is My geliefde Seun, in Wie Ek ‘n welbehae het.’ ‘U kan,’ sê Hy, ‘met die grootste vrymoedigheid sy hart vertrou, ofschoon u nie u eie hart strafloos kan vertrou nie.’

Geseënde, driemaal geseënde Here Jesus, wie sou U nie vertrou en U Naam nie loof nie!

‘Ek glo regtig in Hom,’ sê ‘n siel, wat daar treurig uitgesien het, eendag vir my; ‘maar as iemand my vra of ek gered is, wil ek darem nie graag ja sê nie, uit vrees dat ek ‘n leuen vertel.’ Hierdie jong dame was die dogter van ‘n slagter in ‘n klein dorpie. Dit was net toevallig markdag en haar vader was nog nie terug van die mark nie. Dus sê ek: ‘Sê nou jou vader kom vanaand tuis en jy vra hom hoeveel skape hy vandag gekoop het, en hy antwoord tien. ‘n Kort rukkie daarna kom ‘n man na die slaghuis en vra, ‘Hoeveel skape het u vader vandag gekoop?’ en jy antwoord. ‘Ek wil nie graag sê nie, uit vrees dat ek ‘n leuen sal vertel.’ Maar die moeder was tydens die voorval teenwoordig en sê met regmatige verontwaardiging, ‘Dan maak jy mos jou vader tot een leuenaar.’

Sien u nou nie dat hierdie jong dame, hoe goed sy dit ook al gemeen het, in werklikheid Christus tot ‘n leuenaar gemaak het deur te sê, ‘Ek glo waarlik in die Seun van God, en Hy sê ek het die ewige lewe, maar ek wil nie graag sê dat ek dit het nie, uit vrees dat ek ‘n leuen vertel.’ Hoe ‘n vermetele astrantheid!

‘Maar,’ sê ‘n ander, ‘hoe kan ek seker wees dat ek werklik glo? Ek het al dikwels probeer om te glo en na binne gekyk om te sien of ek dit het, en, hoe meer ek na my geloof kyk, hoe minder geloof skyn ek te hê.’

Ja, natuurlik, vriend, want u kyk in die verkeerde rigting om dit te ontdek en die feit dat u probeer om te glo, toon maar alte duidelik dat u op die verkeerde spoor is.

Laat my u ‘n ander illustrasie gee om te verklaar wat ek u wil meedeel.

U sit een aand stil in u huis en daar kom iemand in wat u vertel dat die stasiemeester dieselfde aand deur die trein gedood is. Nou is dit toevallig net so dat hierdie man oral bekend staan as ‘n baie oneerlike persoon, en die berugste, onbeskaamdste leuenaar in die hele omgewing.

Glo u daardie man, of probeer u om hom te glo?

‘Natuurlik nie,’ roep u uit.

‘En waarom nie?’

‘O, daarvoor ken ek hom te goed.’

‘Maar sê my hoe u weet dat u hom nie glo nie. Is dit dat u na binne kyk na u geloof of gevoelens?’

‘Nee,’ antwoord u, ‘ek dink aan die man wat my die boodskap bring.’

‘n Rukkie daarna kom ‘n buurman in en sê, ‘Die stasiemeester is vanaand deur ‘n goederetrein doodgetrap.’ Nadat hy weg is, hoor ek u sê: ‘Wel, ek glo dit nou gedeeltelik; want sover ek my kan herinner, het hierdie man my nog net eenmaal in sy lewe bedrieg, ofskoon ek hom van sy jeug af geken het.’

Maar weer vra ek, ‘Is dit hierdie keer deur na u geloof te kyk dat u weet dat u gedeeltelik glo?’ ‘

Nee,’ is u antwoord andermaal, ‘ek dink aan die karakter van die persoon wat my die nuus gebring het.’

Wel, hierdie man is skaars weg van u huis of daar kom ‘n derde, wat u dieselfde treurige tyding bring as die eerste. Maar hierdie keer sê u: ‘Nou glo ek dit, Jan; omdat jy my dit vertel, kan ek dit volkome glo.’

Weer herhaal ek my vraag (wat soos u sal onthou, maar slegs ‘n herhaling van u eie vraag is), ‘Hoe weet u dat u u vriend Jan so volkome glo?’

‘Omdat ek weet wie en wat Jan is,’ antwoord u. ‘Hy het my nog nooit bedrieg nie en ek glo nie hy sal dit ooit doen nie.’ Nou ja, presies op dieselfde manier weet ek dat ek die evangelie glo; nl. terwille van die Persoon wat my die tyding bring. ‘As ons die getuienis van die mense aanneem, die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Hy wat in God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.’ 1 Joh. 5 vs. 9 en 10. ‘Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.’ Rom. 4 vs. 3.

‘n Bekommerde siel het eenmaal vir ‘n dienskneg van Christus gesê, ‘Ag, meneer, ek kan nie glo nie!’

Die dienskneg se verstandige en bedaarde antwoord hierop was: ‘So, en wie is dit, wat u nie kan glo nie?’

Dit het hom dadelik tot besinning gebring. Hy het die geloof beskou as iets ombeskryfliks wat hy in sy binneste moes voel ten einde seker te wees dat hy geskik was vir die hemel, terwyl die geloof inteendeel immer na buite sien op ‘n lewende Persoon en sy voltooide werk en rustig gehoor gee aan die getuienis van ‘n getrouwe God aangaande albei.

Dit is die blik na buite wat die vrede binne tot stand bring. Wanneer ‘n man sy gesig na die son wend, is sy eie skaduwee agter hom. U kan nie gelyktydig na uself en na ‘n verheerlikte Christus in die hemel kyk nie. Ons sien dus hoe die dierbare Seun van God my vertroue persoonlik Self wen. Sy voltooide werk maak my vir ewig veilig. Gods Woord omtrent die wat in Hom glo, maak my onveranderlik seker. Ek vind in Christus en sy werk die weg van verlossing, en in die Woord van God die kennis van verlossing.

Maar u sê miskien: ‘Indien ek gered is, hoe kom dit dan dat ek so ‘n wisselende ondervinding het, dat ek so dikwels al my blydskap en troos verloor en so ellendig en terneergeslae word soos voor my bekering?’ Nou ja, dit bring ons tot ons derde punt, nl

DIE VREUGDE VAN VERLOSSING

U sal volgens die onderrigting van die Skrif vind dat u deur die werk van Christus gered is en deur die Woord van God verseker is, maar dat u in voldoening en vreugde bewaar word deur die Heilige Gees wat in elke ware gelowige woonagtig is.

U moet steeds onthou dat die vlees nog in elke gelowige aanwesig is, d.w.s. die bose natuur, waarmee hy gebore is en wat miskien al geopenbaar is, selfs toe hy ‘n hulpelose suigling op sy moeder se skoot was. Die Heilige Gees in die gelowige weerstaan die vlees en word bedroef deur elke handeling daarvan, ditsy in motief of woord of daad. Wanneer die gelowige die Heer ‘welbehaaglik’ is im sy wandel, sal die Heilige Gees in sy siel sy heerlike vrugte-, ‘liefde, blydskap, vrede,’ ens. voortbring (Gal. 5 vs. 22). Wanneer hy in die vlees en op ‘n wêreldse wyse wandel, word die Gees bedroef, en die vrugte ontbreek in meerdere of mindere mate. Laat my dit op die volgende manier aan u wat in die Seun van God glo, voorstel.

Die werk van Christus }

en }staan of val tesame.

u saligheid }

U wandel }

en } staan of val tesame.

u genot }

Wanneer die werk van Christus ineenstort (en, God sy dank, dit kan nooit, nooit gebeur nie), dan sal u saligheid tesame instort. Wanneer u wandel ineenstort (en pas op, want dit kan lig gebeur), dan sal u genot tegelykertyd ineenstort.

Dus word dit van die vroeë dissipels gesê, dat hulle ‘gewandel het in die vrees van die Here, en in die vertroosting van die Heilige Gees,’ (Hand. 9 vs. 31.)

Asook in Hand. 13 vs. 52, ‘ Die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.’

My geestelike blydskap sal afhang van die geestelikheid van my wandel, nadat ek gered is.

Sien u nou u fout? U het u genot verwar met u veiligheid, wat iets geheel anders is. Toe u deur selfbevrediging, onverdraagsaamheid, wêreldsgesindheid, ens., die Heilige Gees bedroef en u blydskap verloor het, het u gedink dat u veiligheid ondermyn is. Maar ek herhaal dit weer-

U veiligheid hang af van die werk van Christus VIR u.

U sekerheid berus op die Woord van God TOT u.

U blydskap is gegrond op die feit dat u nie die Heilige Gees IN u bedroef nie.

Wanneer u, as gelowige, iets doen om die Heilige Gees van God te bedroef, is u gemeenschap met die Vader en die Seun vir die tydperk werklik onderbreek, en dis slegs wanneer u tot selfveroordeling kom en u sondes bely dat die vreugde van gemeenskap herstel word.

Sê nou u kind is skuldig aan een of ander wangedrag. Hy toon op sy aangesig die duidelike teken dat daar iets skeel. ‘n Halfuur tevore het hy ‘n wandeling saam met u in die tuin geniet, en bewonder wat u bewonder het, en geniet wat u geniet het. Met ander woorde, hy was in gemeenskap met u; sy gevoelens en meegevoel was met u gevoelens in oorseenstemming.

Maar nou is dit alles verander en as ‘n stoute, ongehoorsame kind staan hy in die hoek, die toonbeeld van ellende.

Op berouvolle belydenis van sy oortreding het u hom van vergifnis verseker; maar sy trots en moedswil hou hom daar aan die snik.

Waar is nou die vreugde van ‘n halfuur gelede? Dis alles weg! Waarom? Omdat die gemeenskap tussen u en hom onderbreek is.

Wat het geword van die verwantskap wat daar ‘n halfuur gelede bestaan het tussen u en u seun? Is dit verbreek of onderbreek? Dit tog nie!

Sy verwantskap hang af van sy geboorte.

Sy gemeenskap van sy gedrag.

Maar aanstons kom hy uit die hoek met ‘n gebroke wil en ‘n gebroke hart en hy bely die hele ding van begin tot end, sodat u sien dat hy die ongehoorsaamheid en boosheid verafsku net soveel as u dit haat en dan omhels u hom en soen hom hartlik. Sy vreugde is herstel, want die gemeenskap is herstel.

Toe Dawid so ernstig gesondig het in die geval van Uria se vrou het hy nie gesê:

‘Gee my weer U verlossing, nie, maar:

‘Gee my weer die vreugde van U heil.’ (Ps. 51 vs. 14).

Maar om ons illustrasie ‘n bietjie verder te voer. Sê nou daar kom ‘n geroep deur die huis van, Brand! Brand! onderwyl u kind in die hoek staan. Wat sal dan van hom word? Sal hy in die hoek gelaat word om te vergaan in die brandende, ineenstortende gebou? Onmoontlik!

Heel waarskynlik sal hy die allereerste persoon wees vir wie u sou uitdra. O ja, u weet tog alte goed dat die liefde van verwantskap een ding is en die vreugde van gemeenskap iets heel anders.

Nou ja, wanneer die gelowige sondig, is die gemeenskap onderbreek en alle blydskap is verlore, totdat hy met ‘n gebroke hart na die Vader kom en sy sonde bely. Hy neem God dan op sy Woord en weet dat hy weer vergifnis ontvang het; want sy Woord verklaar duidelik dat:

‘As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.’ (1 Joh. 1 vs. 9.)

O medegelowige, onthou dan tog altyd hierdie twee dinge: Daar is niks so sterk as die band van verwantskap nie en niks so teer as die band van gemeenskap nie.

Al die verenigde magte en raadslae van aarde en hel kan eersgenoemde nie verbreek nie, terwyl ‘n onreine motief of ‘n ydele woord laasgenoemde kan afknip. Als u gekwel word met ‘n benewelde halfuur verneder u dan voor God en kyk na u weë. En wanneer u die dief wat u van blydskap beroof het, ontdek het, sleep hom dan onmiddellik na die lig, bely u oortreding aan God, u Vader, en veroordeel uself meedoënloos vanweë die onwaaksame, sorgelose sielstoestand wat die dief toegelaat het om ongehinderd binne te tree. Maar moet nooit, nooit, u veiligheid met u blydskap verwar nie.

Moet egter nie dink dat die oordeel van God op die sondes van die gelowige sagter is as op die sondes van die ongelowige nie. Hy handel nie geregtelik op twee maniere met die sonde nie; en Hy kan ewemin die sondes van die gelowige oor die hoof sien sonder om dit te veroordeel as die sondes van iemand wat sy Seun verwerp het. Maar daar is hierdie groot onderskeid tussen die twee; nl. dat die sondes van die gelowige almal aan God bekend was, en alles gelê is op die Lam deur God Self voorsien toe Hy aan die kruis gehang het op Gólgota, en dat die ontsettende kwessie van sy sondes dan en daar eenmaal en vir altyd te berde gebring en afgehandel is waar die oordeel geval het op die dierbare Plaasvervanger in die gelowige se plek. ‘Wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het.’ (1 Pet. 2 vs. 24)

Die persoon wat Christus verwerp, moet sy eie sondes in sy eie persoon vir ewig in die vuurpoel dra. Maar wanneer ‘n ware gelowige sondig, kan die ontsettende sondekwessie nie weer opnuut teen hom ingebring word nie, want die Regter het dit mos Self eens en vir altyd aan die kruis afgehandel, maar die kwessie van gemeenskap word in hom aangeroer deur die Heilige Gees, so dikwels as hy die Heilige Gees bedroef.

Laat my u ten slotte nog ‘n illustrasie gee. Dis ‘n pragtige maanligaand. Die maan is vol en skyn met ‘n buitengewone silwerglans. ‘n Man staar aandagtig in ‘n diep, stil put af waar hy die maan weerkaats sien en sê vir ‘n vriend wat by hom staan: ‘Hoe pragtig mooi en rond is sy tog vanaand! Hoe stil en majestueus seil sy daar!’ Hy het net klaar gepraat toe sy vriend skielik ‘n klippie in die put laat val en nou roep hy uit: ‘Kyk, die maan is aan flenters gebreek en die stukkies skommel teen mekaar in die grootste wandorde!’ ‘Hoe belaglik!’ was die antwoord van sy verbaasde metgesel.

‘Kyk op, man! Die maan het geen jota verander nie. Dit is die toestand van die put wat die maan weerkaats, wat verander het.’

Pas nou hierdie eenvoudige beeld op uself toe. U hart is die put. Wanneer daar geen sonde toegelaat word nie dan neem die Heilige Gees van God van die glans en sierlikheid van Christus en openbaar dit aan u vir u vertroosting en blydskap. Maar sodra daar ‘n verkeerde beweegrede in die hart gekoester word of ‘n ligsinnige woord die lippe ontsnap sonder selfveroordeling, begin die Heilige Gees die put te verstoor en u gelukkige ondervindings is aan flenters geslaan en u is geheel-en-al rusteloos en verstoord van binne, totdat u met gebrokenheid van gees voor God u sonde, d.w.s. die stoorniswekkende dinge bely, en aldus weer herstel word tot die kalme, soete vreugde van gemeenskap.

Maar behoef ek, onderwyl u hart so vol onrus is, te vra of die werk van Christus verander het? Nee, nee! Dan het u verlossing ook nie verander nie. Het die woord van God verander? Dit tog nie. Dan het die SEKERHEID van u verlossing gee skok ontvang nie. Wat het dan eintlik verander? Kyk, die werking van die Heilige Gees in u het verander en pleks dat Hy van die heerlikhede van Christus neem en u hart met die besef van sy waardigheid vervul, is Hy bedroef dat Hy Hom van die heerlike werk moet wend om u met ‘n gevoel van u sonde en onwaardigheid te vervul.

Hy neem u teenwoordige troos en vreugde van u weg, totdat u ook die kwaad veroordeel en weerstaan wat Hy veroordeel en weerstaan. Sodra dit gedoen word, word u gemeenskap met God weer herstel. Mag die Here ons meer en meer jaloers op onsself maak, ten einde dat ons nie die Heilige Gees van God bedroef nie ‘deur wie julle verseël is tot die dag van die verlossing.’ Ef. 4 vs. 30. Hoe swak u geloof ook mag wees, wees seker hiervan, dat die Heilige Persoon wat u vertroue gewen het, nooit sal verander nie. ‘Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.’ (Heb. 13 vs. 8) Die werk wat Hy verrig het, sal nooit verander nie. ‘Alles wat God doen, sal vir ewig bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie.’ (Pred. 3 vs. 14). Die woord wat Hy gespreek het, sal nooit verander nie. ‘Die gras verdor en sy blom val af maar die woord van die Here bly tot in ewigheid.’ (1 Petrus 1 vs.24, 25). Sodat die voorwerp van my vertroue, die fondament van my veiligheid en die basis van my sekerheid eners is, d.w.s. EWIGLIK ONVERANDERLIK.

My liefde is vaak dof,

My vreugde rys en daal;

Maar vree met Hom verander nie

Jehova bly egaal. (Die bedoeling is hier ewiglik, onveranderlik, dieselfde)

Verander ek – God nie;

Sy Christus hou steeds stand;

Sy liefde is die plek van rus;

Sy waarheid is die band.

Laat my u nogmaals vra: WATTER KLAS REIS U?

Ek smeek u om u hart tot God te wend en aan Hom die antwoord op die vraag te gee. ‘God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig.’ (Rom. 3 vs. 4). ‘Wie sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waar is.’ (Joh. 3 vs. 33). Mag die vreugdevolle versekering van die besit van hierdie groot verlossing u toebehoort, nou en ‘totdat Hy kom.’


Lees die Bybel, dit is die Woord van God. Luister na die stem van God. Die Allerhoogste en lewende God gee vir jou om. Hy maak vandag sy liefde aan jou bekend. Sy Woord gee aan jou betroubare inligting oor die weg na ware geluk en vrede. Indien jy meer literatuur benodg, kan ons dit gratis aan jou stuur. As jy enige vrae het, sal ons dit baie graag probeer beantwoord. Stuur aan my asseblief meer literatuur (skryf enige vrae op ’n aparte bladsy).

Naam: _________________________________

Adres: _______________________________________________

_____________________________________________________

Verkrygbaar by die, Bybelverspreiders, Posbus 2234, Alberton 1450, Republiek van Suid-Afrika © 2005 Bible Distributors, Fountain House, Conduit Mews, London, SE18 7AP, England. Alle regte voorbehou. Skrifaanhalings is uit die 1933/53-vertaling van die Afrikaanse Bybel. Besoek Chapter Two se webwerf by: www.chaptertwo.org.uk .