Die Gemeente van God of Die Algenoegsaamheid van die Naam van Jesus

Charles Henry Mackintosh

Die Gemeente van God, of Die Algenoegsaamheid van die Naam van Jesus, deur C.H. Mackintosh (1820-1896). Oorspronklik in Londen ge­pu­bliseer onder die titel The Assembly of God or The All-Sufficiency of the Name of Jesus.

Eerste uitgawe gepubliseer deur Geo. Morrish, Londen

1998 uitgawe deur Chapter Two, Londen

Voorwoord

CHM: Hierdie voorletters het wêreldwyd bekend geword. Hulle staan vir Charles Henry Mackintosh, gebore in Glen­malure Barracks, County Wicklow in 1820. Sy vader was 'n kaptein in die Highland regiment en sy moeder 'n dogter van Lady Weldon, 'n ou gevestigde familie in Ier­land. Hy het 'n diepgaande geestelike verandering onder­gaan toe hy agtien jaar oud was nadat hy die boek Operations of the Spirit of God deur JN Darby gelees het, wat deur sy suster aan hom gestuur is. Hy het aanvanklik by 'n handelshuis in Limerick betrokke geraak, en daarna 'n skool in Westport geopen wat hy in 1853 verlaat het. Terwyl hy in Dublin gewoon het, was hy aktief by die 1859 herlewing betrokke. Sy Notes on various Books and Subjects het aanvanklik in Things New and Old verskyn. Sy Notes on the Pentateuch was oor die jare heen 'n guns­teling en is in verskeie ander tale vertaal. Ná langer as 'n eeu is dié boek nog steeds in druk. Hy het gereeld enige betaling wat vir sy skryfwerk aangebied is, van die hand gewys. Ná 'n lewe van vrugbare arbeid het hy in 1896 heengegaan om met Christus te wees, en is in die Cheltenham-begraafplaas ter ruste gelê. Soos wat hierdie én ander publikasies van getuig, word hy deur sy werke gevolg.

Die Uitgewer

Londen, Oktober 2001

Inleiding

In die huidige tyd, wanneer omtrent elke nuwe idee die middelpunt of ontmoetingspunt vir nuwe assosiasies word, kan ons nie anders as om goddelik gevormde oor­tuigings te verkry oor wat die gemeente van God werklik is nie. Ons leef in 'n tyd van buitengewone verstandelike aktiwiteit, daarom is daar 'n ernstige behoefte om die Woord van God kalm en biddend te bestudeer. Hierdie Woord - gesëend is die Outeur daarvan - is soos 'n rots wat deur 'n oseaan van menslike denke omring word. Dit staan onbeweeglik vas ten spyte van die geweld van die storm en die aanhoudende aanslag van die golwe daar­teen. Nie net staan dit self vas nie, maar dit verleen ook stabiliteit aan almal wat hulle stand daarop neem. Watter ge­nade is dit nie om te midde van die stormsee se ge­woel 'n plek van stille rus op die ewige Rots te vind nie.

Dit is werklik genade, want as ons nie die wet en getuienis van die Bybel gehad het nie, waar sou ons gewees het? Waarheen moet ons gaan? Wat moet ons doen? Watter duisternis, verwarring en benoudheid sou daar nie gewees het nie! Tienduisend wanklanke val soms op die oor, elk met sy eie aanspraak op gesagheb­bend­heid. As ons nie deeglik in die Woord onderrig en ge­fundeer is nie, is daar 'n wesenlike gevaar om uit ons vastigheid weg te val. Die een persoon sal sê dit is reg; die ander sal jou vertel dát is reg; 'n derde sal jou vertel dat alles is reg is; en 'n vierde sal sê niks is reg nie. Wat die vraag oor kerke betref, sal jy mense ontmoet wat hier­heen gaan, ander wat daarheen gaan, sommige wat oral gaan, en party wat nêrens heen gaan nie.

Wat kan ons onder hierdie omstandighede doen? Almal kan tog nie reg wees nie, en tóg moet daar iets wees wat reg is. Dit kan nie wees dat ons verplig word om te fouteer en in duisternis of onsekerheid  te leef nie. Geseënd is die Here, want daar is "'n pad wat die roofvoël nie ken nie, en die oog van die valk het dit nie gespeur nie; waar die trotse roofdiere nie op trap nie, waar die leeu nie oor stap nie" (Job. 28:7-8). Waar is hier­die geseënde en veilige pad? Luister na die godde­li­ke antwoord: "Kyk, die vrees van die Here is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand" (Job 28:28). Die Here sal sy weg aan ons bekend maak (Ps. 32:8).

Laat ons dan in die vrees van die Here, in die lig van sy onfeilbare waarheid, en in nederige afhanklikheid van die lering van sy Heilige Gees, voortgaan om 'n studie van die onderwerp van hierdie boek te maak. Ons bid ook dat ons die genade mag ontvang om nie op eie insig of op die insig van ander te vertrou nie, sodat ons met ons hele hart en in opregtheid onsself voor die Here kan verootmoedig om deur Hom alleen geleer te word.

Voordat ons die belangrike onderwerp van God se gemeente op aarde kan bestudeer, moet ons eers die feit van die bestaan daarvan aanvaar, en daarna die vraag oor die aard daarvan beantwoord.

1. Die Gemeente van God

Eerstens moet ons die belangrike feit van die bestaan van God se gemeente op aarde aanvaar. In hierdie ver­band verwys ek nie na 'n blote menslike organisasie soos die Grieks Ortodokse Kerk, die Rooms-Katolieke Kerk, die Anglikaanse Kerk, die Kerk van Skotland, of enige van die kerke wat van hulle afgestig het nie, omdat hulle almal deur mense beplan en gevorm is en ook deur menslike hulpbronne onderhou word. Ek verwys bloot na daardie gemeente wat deur God die Heilige Gees ver­samel is, gesentreer rondom die Persoon van God die Seun, om God die Vader te aanbid en met Hom gemeen­skap te hê.

Indien ons in ons soektog na die gemeente van God, of enige uitdrukking daarvan, met vooroordeel, voorop­ge­stelde idees of persoonlike voorkeure begin; óf as ons in ons soektog op die flikkerende lig van dogmas, opinies en tradisies van mense staatmaak, is dit baie seker dat ons nie die waarheid sal ontdek nie. Om God se ge­meen­te te kan herken, moet ons uitsluitlik deur God se Woord geleer en deur die Heilige Gees gelei word; want van God se gemeente, asook die kinders van God, word gesê: "die wêreld ken ons nie" (1 Joh. 3:1).

Indien ons enigsins deur die gees van die wêreld be­heer word; indien dit ons begeerte is om mense te ver­heerlik; indien ons na aansien onder mense streef; indien ons doelwit die aanloklike ideaal van 'n aanvaarbare en sielsvernietigende dienstigheid is, dan kan ons net sowel ons soektog na enige ware uitdrukking van die gemeente van God laat vaar, en ons toevlug by daardie menslike organisasies neem wat die beste by ons eie idees en eie oortuigings pas.

Indien dit slegs ons doel is om 'n godsdienstige ge­meenskap te vind waar die Woord van God gelees of van die kinders van God aangetref word, is dit maklik, want een of beide daarvan kom in omtrent alle belydende lig­ga­me voor.

Indien dit ons doel is om slegs die goeie wat ons kan, te doen, sonder enige vrae oor hoe ons dit doen; indien ons net 'n basiese lewensreël van regte en verkeerde optrede nastreef; indien ons bereid is om die gewigtige woorde van Samuel om te keer, en te sê dat "'n slagoffer beter is as om gehoorsaam te wees, en die vet van ramme beter as om te luister," dan sou dit tevergeefs wees om ons soektog na die gemeente van God voort te sit. Hierdie gemeente kan slegs gevind en aanvaar word deur een wat geleer is om van die aanloklike paaie van menslike dienstigheid af weg te vlug en sy gewete, sy hart, sy begrip en sy moraliteit aan die verhewe gesag van "So sê die Here" te onderwerp.

Die gehoorsame dissipel weet dat daar iets soos die gemeente van God is, en hy is deur genade in staat om te verstaan wat die ware uitdrukking daarvan is. Die inge­ligte student van die Woord weet onomwonde wat die verskil is tussen dit wat deur die wysheid en wil van mense begin, gevorm en beheer word, en dit wat rondom die Here Jesus byeenkom en deur Hom beheer word. Hoe oneindig groot is die verskil nie! Dit is soos die ver­skil tussen God en die mens.

Ons mag sekerlik vir bewyse uit die Woord gevra word vir die feit dat daar so iets soos die gemeente van God op aarde is, en sal onmiddellik voortgaan om dit te verskaf. Sonder die gesag van die Woord is alle stellings immers totaal nutteloos. Dit is dus van kardinale belang wat die Skrif hieroor sê.

Ons eerste antwoord kom uit daardie welbekende skrif­gedeelte in Matthéüs 16: "En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en som­mige Elia, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir Hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my gemeente (Grieks: ekklesia)[1] bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie" (Matt. 6:13-18).

Hier openbaar ons gesëende Here op 'n duidelike wyse sy doel om 'n gemeente te bou en noem ook die ware fondament van die gemeente, naamlik "Christus, die Seun van die lewende God." Dit is 'n allerbelangrike punt in ons bespreking. Die gebou is op die Rots ge­grond, en daardie Rots is nie die falende, struikelende en fouterende Petrus nie, maar Christus, die Seun van die lewende God. Elke steen in daardie gebou het deel aan die Rots-lewe wat oor al die mag van die vyand triomfeer, en onvernietigbaar is.

Dit is van die uiterste belang om te onderskei tussen dit wat Christus bou en dit wat deur mense gebou word. "Die poorte van die doderyk" sal dit wat slegs deur mense gebou is, sekerlik oorweldig. Dit sou dus 'n fatale fout wees om aan mense se bouwerk woorde te koppel wat slegs van toepassing is op dit wat Christus bou. Die mens mag met hout, hooi en stoppels bou, en hy doen dit ongelukkig ook, maar alles wat deur Christus die Here gebou word, sal vir ewig bly staan. Die stempel van die ewigheid rus op al die werke van sy hande. Alle lof aan sy heerlike Naam.

In die Evangelie volgens Matthéüs vind ons ook 'n ander, baie bekende skrifgedeelte: "En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde" (Matt. 18:15-20).

Ons sal later verder oor hierdie skrifgedeelte uitbrei. Dit word hier slegs as 'n verdere bewys genoem van die feit dat daar wél so iets soos die gemeente van God op aarde is. Dit is nie net 'n naam, 'n vorm, 'n skyn of 'n ver­on­derstelling nie. Dit is 'n goddelike werklikheid - 'n in­stel­ling van God wat oor sy eie seël en magtiging beskik. Dit is 'n liggaam waarop ons onsself kan beroep in alle gevalle van persoonlike oortredings, asook geskille met ander mense wat nie deur die betrokke partye alleen opgelos kan word nie. Die gemeente kan op enige plek uit slegs twee of drie persone bestaan, wat die kleinste veelvoude is, maar dit word deur God besit en funksio­neer as 'n liggaam waarvan die besluite in die hemel be­kragtig word.

Ons moet nie terugdeins vir die waarheid oor dié onderwerp op grond van die buitensporige aannames wat die Kerk van Rome na aanleiding van hierdie twee skrifgedeeltes gemaak het nie. Daardie kerk is nie God se gemeente wat op die Rots Jesus Christus gebou is en in sy naam byeenkom nie, maar 'n menslike dwaling wat op 'n feilbare sterfling gebaseer is en deur die tradisies en leerstellings van mense beheer word. Ons moet nie toe­laat dat Satan se nabootsel ons van God se werk­lik­heid beroof nie.

God het sy gemeente op aarde gevestig, en ons is verantwoordelik om die waarheid daarvan te bely en in die praktyk uit te leef. Dit mag in die huidige, deurmekaar wêreld 'n moeilike taak wees wat vasberadenheid en nougesetheid van ons sal verg. Elke Christen het die voorreg van 'n goddelike sekerheid oor die ware aard van die gemeente van God, en hy kan daarvan net so seker wees as sy eie redding deur die bloed van die Lam. Hy kan met niks minder as dit tevrede wees nie. Ek behoort nie bereid te wees om vir 'n enkele uur lank voort te gaan sonder die versekering dat ek in gees en in beginsel geassosieer is met diegene wat op grond van God se gemeente byeenkom nie. Ek sê in gees en in beginsel, want dit mag gebeur dat ek my in omstandighede bevind waar daar nie 'n plaaslike gemeente van God is nie. Ek moet dan tevrede wees om in die gees gemeenskap te hou met mense wat saam met my in die gemeente van God deel, terwyl ek op God wag om my te lei na sy mense met wie ek persoonlik in die seëninge en heilige verantwoordelikheid van sy gemeente kan deel.

Dit vereenvoudig die saak baie. Indien ek nie 'n ware uitdrukking van die gemeente van God kan kry nie, wil ek niks hê nie. Dit sal nie help om my na 'n godsdienstige gemeenskap te verwys waarvan sommige lede Christene is, die evangelie gepreek en Christelike instellings bedien word nie. Ek moet deur die gesag van die Woord en die Gees van God daarvan oortuig wees dat die lede ver­gader op grond van die kenmerke van God se gemeente, anders kan ek nie deel daarvan wees nie. Ek kan net met die kinders van God in daardie groep assosieer indien hulle my sou toelaat om dit buite hulle godsdienstige stelsel te doen, maar hulle stelsel kan ek nie aanvaar of deel daarvan word nie. Indien ek dit sou doen, sou dit daarop neerkom dat ek nie 'n duit omgee of ek die be­gin­sels van God se gemeente handhaaf, of menslike instel­lings nie - of ek die heerskappy van Christus of die ge­sag van die mens erken - en of ek buig voor die Woord van God of die opinies van mense nie.

Baie mense sal ongetwyfeld oor hierdie siening aan­stoot neem. Dit sal as geestelike verwaandheid, voor­oor­deel, bekrompenheid, onverdraagsaamheid, en so meer, afgemaak word. Ons moet egter nie hierdeur ontmoedig word nie. Al wat ons te doen staan, is om die waarheid oor God se gemeente vas te stel en heelhartig en daad­werklik daaraan vas te hou, wat dit ook al sal kos. As God 'n gemeente het - en die Skrif sê Hy het - dan wil ek saam met diegene wees wat die beginsels daarvan eerbiedig, en nêrens anders nie. Dit behoort duidelik te wees dat waar daar verskillende botsende sisteme is, hulle nie almal van 'n goddelike oorsprong kan wees nie. Wat staan my te doen? Moet ek met die geringste van twee euwels tevrede wees? Sekerlik nie! Wat dan? Die antwoord is eenvoudig, doelgerig, en direk: dit is die be­gin­sels van God se gemeente, of niks nie. Indien daar 'n plaaslike verteenwoordiger van hierdie gemeente is, is dit goed - wees dan persoonlik in hulle midde. Indien nie, wees dan tevrede om geestelike gemeenskap te hou met hulle wat nederig en getrou op hierdie heilige grond staan wat God vir sy gemeente bepaal het.

Dit mag na groot Christelike vryheid en ruimhartigheid klink om in menslike strukture met alles en almal saam te gaan, en met niks fout te vind nie. Dit mag baie gemaklik en aangenaam wees om in 'n plek te wees waar almal se grille behaag en niemand se gewete getoets word nie - waar ons mag glo wat ons wil, sê wat ons wil, doen wat ons wil en gaan waar ons wil. Dit mag alles baie lekker lyk - baie aanneemlik, baie populêr en baie aantreklik. Aan die einde sal dit egter geestelike armoede en bit­ter­heid meebring, en op die dag van die Here soos hout, hooi en stoppels verbrand omdat dit nie voor die oordele van God staande sal kan bly nie.

Laat ons voortgaan met bewyse oor die instelling van God se gemeente uit die Skrif. In die Handelinge van die Apostels, of liewer, die Handelinge van die Heilige Gees, vind ons die formele oorsprong van die gemeente. Een of twee skrifgedeeltes sal voldoende wees: "En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daag­liks by die gemeente gevoeg die wat gered is" (Hand. 2:46-47). Dit is hoe dit was in die oorspronklike, eenvoudige apostoliese orde. Wanneer 'n persoon tot bekering gekom het, het hy sy plek in die gemeente ingeneem: daar was geen ingewikkeldheid aan hierdie saak verbonde nie, want daar was geen sek­tes of party­skappe wat elkeen aanspraak daarop gemaak het dat dit 'n kerk of belangegroep was nie. Daar was slegs die gemeente van God waar Hy gewoon, gehandel en re­geer het. Dit was nie 'n stelsel wat volgens die wil, die oordeel of selfs die gewete van mense gevorm is nie. Mense het toe nog nie daarmee begin om kerke te stig nie. Dit was God se werk. Dit was net so eksklusief God se taak en prerogatief om die gereddes byeen te bring, as om die afgedwaaldes te red.[2]

Waarom sou dit vandag anders wees? Waarom moet die weergeborenes na enige ander grondslag van same­horigheid as die gemeente van God soek? Is dit nie vol­doende nie? Vir seker is dit. Sou hulle tevrede kon wees met enigiets anders? Beslis nie. Ons herhaal dit met nadruk: dit is óf die gemeente van God óf niks nie!

Dit is 'n betreurenswaardige feit dat mislukking, afval­lig­heid en goddeloosheid ingetree het. Die wysheid en wil van die mens, of, anders gestel, sy rede, sy oordeel, en sy gewete, het die saak van die kerk erg benadeel. Die gevolg daarvan staar ons vandag in die gesig in die vorm van bykans ontelbare sektes en partyskappe. Steeds het ons die moed van ons oortuiging om te sê dat die oor­spronklike grondslag van die gemeente vandag nog gel­dig is, ten spyte van al die neerlaag, misleiding en ver­war­­ring wat ingetree het.

Dit mag prakties baie moeilik wees om die Bybelse standaard van die gemeente te bereik, maar die werk­lik­heid daarvan is onveranderd en onveranderbaar. In die tyd van die apostels het die gemeente duidelik teen die donker agtergrond van Judaïsme aan die een kant, en die heidendom aan die ander kant, uitgestaan. Dit was onmoontlik om dit mis te kyk omdat dit as 'n opvallende werk­likheid uitgestaan het! 'n Groep mense is deur God die Heilige Gees lewend gemaak, vervul en beheer, so­dat die oningeligtes en ongelowiges kon inkom en erken dat God daar teenwoordig is (kyk deeglik na 1 Korinthiërs 12 en 14).

Uit die evangelie van ons geseënde Here blyk sy doel van die bou van 'n gemeente duidelik. Die gemeentes word histories in Handelinge aan ons voorgehou. Wan­neer ons na die sendbriewe van Paulus gaan, sien ons dat hy gemeentes in sewe verskillende plekke aan­spreek, naamlik Rome, Korinthe, Galásïe, Éfese, Filíppi, Kolósse, en Thessalónika. Laastens vind ons in Openba­ring 2 en 3 briewe aan sewe verskillende gemeentes. Op al hierdie plekke was die gemeente van God 'n werklike en duidelik waarneembare instelling wat deur God self gevestig en onderhou is. Dit was nie 'n menslike orga­ni­sasie nie, maar 'n goddelike instelling - 'n ligdraer vir God in elke plek.

Daar is voldoende bewyse uit die Skrif van die feit dat God 'n gemeente op aarde het wat byeengebring, vervul, en regeer word deur die Heilige Gees wat die enigste waaragtige Verteenwoordiger van Christus op aarde is. In die Evangelies is daar 'n profetiese heenwysing na die gemeente, in Handelinge word die gemeente histories aan­getoon, en in die Sendbriewe van die apostels word die gemeente for­meel aangespreek. Dit is baie duidelik. Wan­neer daar na verskillende aspekte en tydperke daar­van gekyk word, moet ons dit steeds binne die verband van die een ge­meen­te van God as 'n ware uitdrukking daarvan beoordeel.

Dit moet duidelik gestel word dat ons oor hierdie on­der­werp na niks anders as die stem van die Heilige Skrif sal luister nie. Laat die rede swyg, want dit is beperk. Laat tradisie nie haar stem verhef nie, want ons neem haar hoegenaamd nie in ag nie. Laat menslike wens­lik­heid nie aan ons opgedring word nie, want ons sal daar­aan geen plek gee nie. Ons glo aan die algenoeg­saamheid van die Heilige Skrif - dat dit in staat is om ten volle aan die behoeftes van die mens van God te voor­sien en hom volkome vir elke goeie werk toe te rus (2 Tim. 3:16-17). Die Woord van God is óf algenoeg­saam, óf dit is nie. Ons glo dat dit geheel en al ge­noeg­saam vir elke behoefte van God se gemeente is. Dit kan nie anders wees as God die Outeur daarvan is nie. Ons moet óf die goddelike oorsprong van die Bybel ontken, óf die algenoegsaamheid daarvan erken. Daar is nie 'n en­kele haarbreedte vir 'n middeweg nie. Dit is onmoontlik dat God 'n onvolmaakte, onvoldoende boek kon laat skryf het.

Hierdie is 'n uiters belangrike beginsel in verband met ons onderwerp. Baie van ons Protestantse skrywers het, wanneer hulle die Vatikaan teëgestaan het, standpunt ten gunste van die algenoegsaamheid en gesag van die Bybel ingeneem. Wanneer hulle teëstanders egter skerp hierop gereageer en bewyse uit die Skrif vir die Protes­tante se standpunte gevra het, het hulle in hul argumente gefouteer. Daar is baie dinge wat deur die Britse staats­kerk en ander Protestantse groepe aanvaar is en be­oefen word, wat geen skriftuurlike ondersteuning het nie. Wanneer uitgeslape Roomse teëstanders hierop gewys en die skrifgesag daarvan bevraagteken het, het die swak­heid van blote Protestantisme duidelik geblyk. In­dien ons vir 'n oomblik sou erken dat ons vir sommige dinge ons toevlug tot tradisie en oorwegings van wens­likheid geneem het, wie sal dan die grense van toelaat­baarheid bepaal? Indien ons van die smal en goed ge­defi­nieerde weg van goddelike openbaring sou afwyk, en die brëe en verwarrende weg van menslike tradisie begin volg, het die een persoon dan nie net soveel reg as die ander om 'n keuse te maak nie?

Dit is onmoontlik om die aanhangers van Rooms-Katolisisme op enige ander gronde te ontmoet as dié waarop die gemeente van God standpunt inneem, naam­lik die algenoegsaamheid van die Woord van God, die Naam van Jesus en die krag van die Heilige Gees. Dank­sy die Here is dit die onaanvegbare posisie wat sy ge­meen­te inneem. Hoe swak en veragtelik enige ge­meente ook al in die oë van die wêreld mag wees, weet ons, in die woorde van Christus, dat "die poorte van die doderyk dit nie sal oorweldig nie" (Matt. 16:18). Hierdie "poorte" sal vir seker teen alle menslike strukture staande bly - teen al daardie organisasies en genootskappe wat deur mense op die been gebring is. Die Kerk van Rome kan ook nie die gemeente van God oorweldig nie, al het dit op 'n arrogante wyse as die grondslag vir sy eie krag aanspraak op hierdie stelling van die Here Jesus ge­maak. Niks kan die krag van die poorte van die doderyk weerstaan nie, behalwe daardie gemeente wat op die lewende Rots gebou is Die plaaslike vergestalting daar­van mag wees waar "twee of drie in die Naam van Jesus" vergader - 'n swak, veragtelike, handjievol mense wat dikwels deur ander lede van die gemeenskap as die uit­vaag­sels en skuim van die aarde beskou word.

Dit is goed om duidelikheid en sekerheid hieroor te hê, want die beloftes van Christus kan nooit faal nie. Ere aan sy Naam, omdat Hy na die laagste moontlike vlak afgekom het waartoe 'n gemeente verminder kan word, naamlik "twee." Hoe genadig, liefdevol en sorgsaam is Hy nie! Hy verbind al die waardigheid, betekenis en krag van sy goddelike en onsterflike Naam aan 'n beskeie groepie wat in sy Naam byeenkom. Dit behoort vir mense wat geestelik ingestel is, duidelik te wees dat toe die Here Jesus van "twee of drie" gepraat het, Hy nie gedink het aan die omvattende strukture wat in antieke, mid­del­eeuse, én moderne tye dwarsoor die wêreld ontstaan het, en wat hulle aanhangers nie by wyse van "twees of dries" tel nie, maar na aanleiding van konink­ryke, pro­vin­sies en distrikte. Dit behoort baie duidelik te wees dat 'n gedoopte koninkryk, en "twee of drie" lewende siele wat in die Naam van Jesus saamkom, nie dieselfde liggaam kan wees nie. Die gedoopte Christendom is een ding, en die gemeente van God iets anders. Wat die gemeente betref, sal ons dit nog verder verduidelik, maar dit moet duidelik van die eerste groepering onderskei word. (Dit mag vir die leser van waarde wees om die onderskeid tussen die kerk wat as "die liggaam van Christus" en as "die huis van God" beskou word, te oordink. In eersge­noemde geval kan hy 'n studie doen van Efésiërs 1:22-23 en 1 Korinthiërs 12, en in laasgenoemde geval van Efé­siërs 2:21; 1 Korinthiërs 3 en 1 Timótheüs 3. Die onder­skeid is so interessant as wat dit belangrik is).

As ons wil weet met watter beeld Christus die ge­doopte wêreld (die naamchristendom) vergelyk, kan ons net na die gelykenisse van die "suurdeeg" en die "mos­terd­saad" in Matthéüs 13 kyk. Die een beeld aan ons die interne en die ander die eksterne kenmerke van "die koninkryk van die hemele" uit. Dit wat oorspronklik in waar­heid en eenvoud gevestig is - die werklike ding, al is dit klein -  het deur die geslepe werking van Satan innerlik 'n bedorwe massa geword. Met sy groot uiterlike omvang, populariteit en vertoon het dit gasheer vir allerhande vreemde dinge geword wat hulleself in sy skaduwee kom tuismaak het. Dit is die eenvoudige maar ernstige les wat ons uit hierdie twee gelykenisse in Matthéüs 13 kan leer.

Een van die resultate daarvan om hierdie les te leer, sal die vermoë wees om tussen "die koninkryk van die hemele" en alles wat daarmee vermeng geraak het, en "die gemeente van God" in sy suiwer vorm te kan on­derskei. Eersgenoemde kan met 'n breë moeras vergelyk word, en laasgenoemde met 'n smal stroom wat dwars­deur die moeras vloei en gedurigdeur gevaar loop om sy unieke karakter en regte rigting te verloor en met die omringende waters vermeng te raak. As die twee met me­kaar verwar word, sal dit rampspoedig vir die godde­like dissipline en suiwerheid van die gemeente van God wees.

2. Grondbeginsels van die Gemeente van God

In die hantering van die onderwerp van God se ge­meen­te kan ons gedagtes duidelik gefokus word deur die vol­gen­de vier aspekte daarvan te oorweeg:

  • Eerstens, wat is die grondslag waarop die gemeente byeenkom?
  • Tweedens, wat is die middelpunt van gemeentelike byeenkomste?
  • Derdens, in watter krag kom die gemeente byeen? en
  • Vierdens, wat is die gesag vir die gemeente se by­eenkomste?

2.1 Die grondslag waarop die gemeente byeenkom

Die grondslag waarop die gemeente van God byeenkom, is dat dit net uit diegene bestaan wat gered is en dus die ewige lewe deelagtig geword het. Ons word nie deel van die gemeente omdat ons gered wíl word nie, maar omdat ons reeds gered is. Die Woord sê: "op hierdie rots sal Ek my gemeente bou" (Matt. 16:18). Dit sê nie: "op my ge­meen­te sal Ek die redding van siele bou" nie. Een van die dogmas waarmee die kerk van Rome spog, is die volgende: "Daar is geen redding buite die ware kerk nie." Ons kan egter nog verder gaan en sê: "Buitekant die Rots is daar geen kerk nie." Neem die Rots weg, en al wat oorbly is 'n fondasielose struktuur van dwaling en korrupsie. Watter ellendige misleiding is dit nie om te dink dat jy daardeur gered kan word nie! Dank die Here dat dit nie so is nie. Ons kom nie na Christus deur die kerk nie, maar na die kerk deur Christus. Indien hierdie orde om­ge­keer word, word Christus heeltemal uitgelaat, wat beteken dat daar geen Rots, geen kerk en geen redding is nie. Ons ontmoet Christus as lewendmakende Verlos­ser nog voor ons enigiets aan die gemeente te sê het. Dit is dus moontlik om die ewige lewe en volle saligheid te hê, selfs al was daar glad nie so iets soos die gemeente van God op aarde nie.[3]

Ons moenie in gebreke bly om hierdie waarheid te snap nie, veral omdat ons in 'n tyd leef wanneer kerklike aansprake nuwe hoogtes bereik. Die kerk, wat valslik hierdie naam gebruik, gooi haar deure oop en nooi son­de­belaaide, wêreld-sieke en vermoeide siele uit om hulle toe­vlug daarin te neem. Met geslepe liberalisme gooi sy die deur van haar skatkamer oop en stel haar geld en ander bronne tot die beskikking van behoeftige, hunke­rende, smagtende siele. Hierdie hulpbronne het 'n sterk aantrekkingskrag vir diegene wat nie op "Die Rots" is nie.

Die gelowige het 'n baie duidelike antwoord op al die pretensies en beloftes van die Roomse sisteem. Hy kan sê dat hy alles in die gekruisigde en opgestane Verlosser gevind het. Wat het hy met die mis te doen? Hy is gewas in die bloed van die Lam. Wat het hy met die arme, sondige, sterwende priester te doen wat homself nie kan red nie? Hy het die Seun van God as sy Hoëpriester. Wat het hy met hoogdrawende rituele te doen, en met al hulle bedrieglike aansprake? Hy aanbid in gees en in waarheid, en betree met vrymoedigheid, deur die bloed van die Lam, die heiligdomme van die Here.

Dit is egter nie net Rooms-Katolisisme waarmee ons te doen het om ons eerste stelling te bevestig nie. Ons is bevrees dat, buiten Rooms-Katolieke, daar duisende mense is wat in hulle harte na die kerk opsien - indien nie vir verlossing nie, dan minstens as 'n middel tot daardie doel. Dit is belangrik om duidelike begrip te hê vir die feit dat die lede waardeur God se gemeente saam­gestel is, slegs diegene is wat reeds die saligheid, of die ewige lewe, verkry het. Die doel van die gemeente is dus nie om saligheid aan sy lede te bied nie, aangesien al sy lede gered moet wees voordat hulle die terrein van die gemeente kan betree. Die gemeente van God is 'n lig­gaam wat deur die Heilige Gees versamel is, sodat "aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word" (Ef. 3:10), en om aan die ganse heelal die algenoegsaamheid van die Naam van Jesus te verklaar.

Die groot vyand van Christus en van die kerk is deeg­lik daarvan bewus watter kragtige getuienis die gemeente van God bedoel en geroepe is om op aarde te wees. Om hierdie rede wend hy al sy bose energie aan om dié getuienis op elke moontlike manier teë te werk. Hy haat die Naam van Jesus, en alles wat daarop ingestel is om sy Naam te verheerlik. Dit is die rede vir sy intense opposisie teen die gemeente in sy geheel, asook teen elke plaaslike uitdrukking daarvan, waar dit ook al mag bestaan. Hy het geen beswaar teen 'n blote gods­diens­tige instelling wat gevorm is met die doel om aan die mens se godsdienstige behoeftes te voorsien nie, ongeag of dit deur die regering of deur vrywillige pogings onderhou word. Jy kan oprig net wat jy wil. Jy kan wees wat jy wil; vir Satan kan jy enigiets doen behalwe 'n  prak­tiese uitlewing van die gemeente van God. Dit haat hy volkome en sal daarna streef om dit met al sy mag swart te smeer en aan te val. Die vertroostende uitsprake van die Here Jesus val egter met goddelike krag op die gelowige oor: "Op hierdie Rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie."

2.2 Die middelpunt van gemeentelike byeenkomste

Dit bring ons by die tweede gedagte, naamlik: Om watter middelpunt vergader die gemeente van God? Christus is die middelpunt - die lewende Steen, waarvan ons in die Sendbrief van Petrus lees: "Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos le­wende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus" (1 Pet. 2:4-5).

Dit is rondom die Persoon van die lewende Christus dat God sy gemeente byeenbring. Dit is nie rondom 'n leerstelling nie, hoe waar dit ook al mag wees; ook nie rondom 'n verordening nie, hoe belangrik dit ook al mag wees; maar rondom 'n lewende, goddelike Persoon. Dit is 'n belangrike en kardinale punt wat uitdruklik aange­gryp, volhardend vasgehou en getrou bely en uitgeleef moet word. "Kom na Hom toe." Daar word nie gesê: "Kom na dit." nie. Ons kom nie iets toe nie, maar na 'n Persoon. "Laat ons dan uitgaan na Hom toe." (Heb. 13:13). Die Heilige Gees lei ons slegs na Jesus. Niks minder as dit sal baat nie. Ons mag daarvan praat om by 'n kerk aan te sluit, lidmaat van 'n gemeente te word, by 'n beweging aan te sluit of onsself aan een of ander belangegroep te verbind. Al hierdie uitdrukkings neig egter om die verstand te verduister en te verwar, en die goddelike idee van die gemeente van die Here uit ons gesigsveld te laat verdwyn. Dit is nie ons opdrag om by enigiets aan te sluit nie. Toe God ons gered het, het Hy ons deur sy Gees aan Christus verbind, en dit behoort vir ons genoeg te wees. Christus is die enigste middelpunt van die gemeente van God.

En, mag ons vra, is Hy nie algenoegsaam nie? Is dit nie genoeg vir ons om aan Christus verbonde te wees nie? Waarom hoegenaamd daaraan toevoeg? "Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde" (Matt. 18:20). Wat meer kan ons moontlik nodig hê? As Jesus in ons midde is, waarom sou ons daaraan dink om 'n menslike leier te kies? Waarom laat ons Hom nie eenparig en van harte toe om die voorsitterstoel in te neem, en buig in alle sake voor sy gesag nie? Waarom moet daar menslike gesag, in enige vorm of hoedanig­heid, in die huis van God wees? Dit word egter gedoen, en dit is goed om openlik daaroor te praat. Mense word in 'n leiershoedanigheid geposisioneer in dít wat bely word om die gemeente van God te wees. Ons sien dat menslike gesag beoefen word op terreine waarop slegs die gesag van God erken moet word.

In soverre dit die grondbeginsel raak, maak dit nie saak of dit die pous, dominee, priester, of voorsitter is nie, want dit bly steeds 'n mens wat in die plek van Christus aangestel word. Dit mag die pous wees wat 'n kardinaal, 'n gesant of 'n biskop aanstel om sekere werk te doen, of dit mag 'n voorsitter wees wat 'n persoon aanwys om vir tien minute lank vermanings te doen of te bid. Die be­ginsel bly dieselfde. Menslike gesag word beoefen waar slegs God se gesag behoort te geld. Indien Christus in ons midde is, kan ons vir alles op Hom staatmaak. Met dit gesê, verwag ons 'n baie waarskynlike beswaar. Die voorstanders van menslike gesag mag sê: "Hoe kan 'n gemeente sonder een of ander vorm van menslike voor­sitterskap funksioneer? Sal dit nie tot grootskaalse verwarring aanleiding gee nie? Sal dit nie vir enigeen die geleentheid skep om homself op die gemeente af te dwing, ongeag sy gawe of kwalifikasie nie? Sal daar nie by elke geleentheid manne opspring en ons met hulle ydele gesprekke en grootpratery verveel nie?"

Ons antwoord op hierdie vraag is 'n baie eenvoudige een: Jesus Christus is algenoegsaam. Ons kan op Hom vertrou om orde in sy huis te handhaaf. Ons voel onsself baie veiliger in sy genadige en kragtige hand as in die hande van die mees bekwame menslike voorsitter. In Christus het ons alle geestelike gawes tot ons beskik­king. Hy is die fontein en oorsprong van alle gesag in die bediening van sy gemeente. Hy hou die sewe sterre in sy regterhand (Op. 1:16). Laat ons ons volle vertroue in Hom stel, en daar sal net so volmaak in die ordelikheid van ons byeenkoms voorsien word as in die redding van ons siele. Dit is waarom ons ook in die titel van hierdie boekie "Die algenoegsaamheid van die Naam van Jesus" met "Die gemeente van God" in verband gebring het. Ons glo dat die Naam van Jesus inderdaad algenoeg­saam is, nie net vir ons persoonlike saligheid nie, maar ook vir al die be­hoeftes van die gemeente - vir aan­bid­ding, ge­meen­skap, bediening, dissipline, regering en vir alles. As ons Hom het, het ons alles in oorvloed en sal Hy in elke behoefte van die gemeente voorsien.

Dit is die werklike kern en inhoud van ons onderwerp. Ons groot doel is om die Naam van Jesus te verhoog, omdat ons glo dat Hy oneer aangedoen is in dit wat sy huis genoem word. Hy is onttroon en in die plek daarvan is die gesag van die mens gevestig. Tevergeefs verleen Hy die gawe van bediening, want die ontvanger van daardie gawe mag dit nie sonder die seël, goedkeuring en gesag van mense beoefen nie. Nie alleenlik is dit so nie, maar indien mense hulle seël, goedkeuring en gesag aan iemand verleen wat nie eers 'n beduidenis van 'n geestelike gawe het nie, ja, soms nie eers 'n greintjie geestelike lewe nie, word só 'n persoon nogtans as 'n prediker erken. In menslik gedomineerde stelsels geld dus die volgende beginsel: die mens se gesag sonder Christus se gawe maak van 'n persoon 'n prediker, terwyl Christus se gawe sonder menslike gesag dit nie doen nie. As dít nie tot oneer van die Here Jesus Christus is nie, wat is dan?

Christen-leser, staan vir 'n oomblik by hierdie gedagte stil en bepeins die beginsel van menslike gesag ernstig. Ons erken dat ons angstig is dat u by die wortel daarvan sal uitkom en in die lig van die Heilige Skrif, asook in die teenwoordigheid van God, dit deeglik sal beoordeel. Wees daarvan verseker dat dit die grootste punt van onderskeid tussen die beginsels van die gemeente van God en elke menslike godsdienstige stelsel onder die son is. Indien ons al hierdie stelsels in oënskou neem, vanaf die kerk van Rome tot by die mees verfynde vorm van godsdienstige assosiasie, vind ons dat menslike ge­sag erken en vereis word. Met dit mag jy preek, en daarsonder mag jy nie preek nie. In teenstelling hiermee maak die gawe van Christus alleen, buite enige menslike gesag, van 'n persoon 'n prediker in die gemeente van God: "Nie vanweë mense of deur 'n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het" (Gal. 1:1). Hierdie is die verhewe beginsel waarop die bediening in die gemeente van God berus.

Wat die groepering van die Roomse Kerk saam met al die ander godsdienstige strukture van ons dag betref, laat dit duidelik verstaan word dat dit slegs met betrek­king tot die beginsel van menslike gesag in die aanstel­ling van predikers gedoen word. Mag God dit verhoed dat ons daaraan sou dink om 'n godsdienstige stelsel wat die Woord van God uitsluit, wat afgodediens en die aanbid­ding van heiliges en engele leer, asook verskeie ander verwerplike vorms van dwaling en bygeloof, met daardie stelsels sou vergelyk waar die Woord van God omhoog gehou en 'n mindere of meerdere mate van skriftuurlike waar­hede verkondig word. Niks kan verder van ons gedagtes af wees nie. Ons glo dat die Katolieke Kerk as 'n godsdienstige sisteem 'n meesterstuk van Satan is, al mag dit wees dat daar ook kinders van God by dié sis­teem betrokke was of steeds is.

In hierdie stadium moet ons dit baie duidelik stel dat ons glo dat kinders van God, beide as predikers en as gemeentelede, in elke Protestantse gemeenskap te vinde is, en dat die Here hulle op baie maniere gebruik en ook hulle arbeid, dienswerk en persoonlike getuienis seën. Verder wil ons die stelling maak dat dit nie vir ons op die weg lê om 'n vinger te verroer om enigeen van daardie stelsels aan te tas nie. Dit is nie stelsels waarmee ons te doen het nie. Die Here sal met hulle handel. Ons be­moeienis is met die gelowiges in daardie stelsels, om daarna te streef dat hulle deur elke geestelike en skrif­tuur­like bemiddeling op die plek sal kom waar hulle die goddelike beginsels van die gemeente van God hulle eie sal maak en ook daarvolgens sal handel.

Met hierdie paar opmerkings om misverstande uit die weg te ruim, keer ons met nuwe ywer na ons punt terug, naamlik die draad van menslike gesag wat deur elke gods­dienstige stelsel in die Christendom loop, en dat daar nie 'n haarbreedte van gemeenskaplike grond tus­sen die Kerk van Rome en die ware gemeente van God is nie. Ons glo dat die eerlike soeker na waarheid te midde van die donker skaduwees van die pousdom, nie tot stilstand kan kom voordat hy homself in die geseënde lig van die ware gemeente van God bevind nie. Dit mag hom jare neem om sy pelgrimstog deur hierdie gapende afgrond te voltooi. Sy voetstappe mag stadig en afge­mete wees, maar as hy in die eenvoud van goddelike eerlikheid die lig volg wat hy het, sal hy nooit rus tussen hierdie twee uiterstes kan vind nie. Die gemeente van God is die enigste ware plek vir al die kinders van die Here. Helaas! hulle is nie almal daar nie, maar dit is tot hul eie verlies en tot oneer van die Here. Hulle behoort daar te wees, want nie alleen is God daar nie, maar Hy word ook toegelaat om daar werksaam te wees en te regeer.

Is God dan nie oral nie en tree Hy nie op verskillende plekke op nie? Hy is inderdaad oral en is te midde van groot dwalings en euwels werksaam. Hy word egter nie toegelaat om in menslike stelsels te regeer nie, aan­gesien die gesag van die mens, waarop ons reeds gewys het, daar afgedwing word. Boonop, indien die feit dat God siele in 'n menslike stelsel tot bekering bring en seën, vir ons 'n rede is om ook daar te wees, dan behoort ons selfs ook in die kerk van Rome te wees omdat daar ook al siele in daardie verdorwe stelsel gered is! Geen argument kan egter gebaseer word op die feit dat God besig is om in 'n bepaalde plek te werk nie. Hy is soe­we­rein en mag werk waar dit Hom behaag. Ons is aan sy gesag onderworpe, en moet doen wat Hy sê en gaan waarheen ons beveel word. My Meester mag gaan waar dit Hom behaag, maar ek moet gaan waarheen ek deur Hom aangesê word om te gaan.

Iemand mag vra: "Is daar geen gevaar dat onbe­voeg­de mense hulleself aan die gemeente van God sal op­dring nie? Indien so iets gebeur, wat is die verskil tussen daardie gemeente en die stelsels van mense?" Ons antwoord is dat daar vir seker 'n groot gevaar hiervoor bestaan. So iets sal egter ten spyte van die beginsels van die gemeente gebeur, en nie op grond daarvan nie. Dit maak die hele verskil. Ons het helaas al foute en mis­lukkings gesien wat hoogs vernederend is.

Laat niemand homself verbeel dat, terwyl ons vir die waarheid oor die gemeente van God stry, ons heeltemal onkundig of vergeetagtig is ten opsigte van die gevare en beproewings waaraan enige uitlewing van die beginsels daarvan blootgestel is nie. Verre daarvandaan. Niemand kan vir 28 jaar op hierdie grondslag staan sonder om pyn­lik daarvan bewus te wees hoe moeilik dit is om dit te onderhou nie. Aan die ander kant is dit juis die be­proe­wings, gevare, en probleme wat die bewyse van die waarheid van hierdie standpunt is. Selfs al sou daar geen oplossing anders as 'n beroep tot menslike gesag wees nie - die aanstelling van 'n mens in die plek van Christus, dit is die terugkeer na wêreldse stelsels - dan sou ons sonder aarseling die oplossing as veel erger as die kwaal verklaar.

Maar, geseënd is God, daar is 'n oplossing. Wat is dit? "Daar is ek in hul midde." Dit is genoeg. Dit is nie: "Daar is 'n pous, 'n priester, 'n dominee of 'n voorsitter in hulle midde as hulle hoof, in die stoel of op die preekstoel nie." In die ganse Nuwe Testament is daar nie so 'n ge­dagte nie. Selfs in die gemeente van Korinthe, waar daar ernstigste verwarring en wanorde geheers het, verwys die geïnspireerde apostel nooit na iets soos 'n menslike voorsitter onder enige naam hoegenaamd nie. In al die gemeentes van die gelowiges is God die God van vrede en orde (1 Kor. 14:33). God was daar om die orde te handhaaf. Dit was Hy self en nie 'n mens onder sy Naam nie. Om 'n mens aan te stel om orde in God se gemeente te handhaaf, is pure ongeloof en 'n openlike belediging vir die Goddelike Teenwoordigheid.

Ons is dikwels gevra om skriftuurlike bewyse vir die gedagte van goddelike voorsitterskap in die gemeente aan te haal. Ons antwoord onmiddellik: "Daar is Ek," en: "God is die God van vrede en orde." Op hierdie twee pilare, al het ons niks meer as dit gehad nie, kan ons triomfantelik die heerlike waarheid van goddelike voor­sitterskap uitbou - 'n waarheid wat, indien dit van God ontvang en as sodanig gehuldig word, ons sal bevry van elke menslike stelsel, noem dit net wat jy wil. Volgens ons oordeel is dit onmoontlik om Christus as die middel­punt en soewereine Heerser in die gemeente te erken, en dan voort te gaan om ons goedkeuring aan die benoe­ming van mense in sy plek te verleen. Wanneer ons eenmaal die heerlikheid van die leierskap van Christus ervaar het, kan ons nooit weer onderworpe wees aan die slaafse diensbaarheid aan mense nie. Dit is nie onge­hoorsaamheid of onverdraagsaamheid teenoor beheer nie. Dit is slegs die totale weiering om voor valse gesag te buig en goedkeuring aan 'n sondige magsoorname te verleen. Die oomblik wanneer ons sien dat mense vir hulleself gesag toeëien in dit wat veronderstel is om die kerk te wees, dan vra ons doodeenvoudig: "Wie is jy?" en vertrek dan na 'n plek waar slegs die gesag van God er­ken word.

"Daar is ook op sulke plekke dwalings, euwels en misbruike," word soms gesê. Sonder twyfel; maar indien daar is, kan ons op God vertrou om die probleme reg te stel. Gemeentes word soms deur onkundige en dwase mense lastig geval of binnegedring - mense wat hulleself nog nooit in die teenwoordigheid van God ondersoek en beoordeel het nie - mense wat manhaftig die grense van logiese denke, goeie smaak en morele fatsoenlikheid oorskry, en dan verwaand daarop aanspraak maak dat hulle deur die Heilige Gees gelei word. Hierdie rustelose mense is gewoonlik met een of ander omstrede saak besig en hou die gemeente gedurig in 'n toestand van senuagtige afwagting, én ook oningelig oor wat volgende mag gebeur. Wat staan 'n gemeente te doen as hulle op só 'n wyse geteister word? Moet hulle die gemeente in ongeduld, ergernis en teleusrstelling verlaat, dit as 'n mite of ydele droom beskou en terugkeer na dit waaruit hulle vroeër gekom het? Helaas! dit is wat sommige gedoen het, maar daardeur het hulle bewys dat hulle nooit verstaan het wat hulle in die eerste plek gedoen het nie, of, indien hulle wél verstaan het, nie die geloof gehad het om hierdie ideaal verder na te streef nie. Mag die Here sulke mense genadig wees en hulle oë open om te kan sien van waar hulle weggeval het, sodat hulle weer perspektief op die gemeente van God kan verkry, in teen­stelling met die mees aanloklike strukture van mense.

Wat staan 'n gemeente te doen indien daar misbruike insluip? Daar moet opgekyk word na Christus as die Here van sy huis. Maak aanspraak op Hom in sy regmatige plek. Beroep jou op die Naam van Christus met betrek­king tot die misbruik, wat dit ook al mag wees. Durf enig­een sê dat dit nie genoeg is nie? Is dit ooit al beproef en ondoeltreffend bevind? Ons kan dit nie glo nie. Indien die Naam van Jesus nie algenoegsaam is nie, kan ons met sekerheid sê dat ons onsself nooit tot die mens en sy miserabele orde sal wend nie. Ons sal nooit - en mag God ons hiertoe help - daardie Naam sonder gelyke uit­wis van die standaard wat die Heilige Gees vir ons gestel het, om dit met die verganklike naam van 'n sterflike mens te vervang nie.

Ons is ten volle bewus van die groot probleme en pynlike beproewings wat met enige uitdrukking van die gemeente van God gepaard gaan. Ons glo dat die pro­bleme en beproewings tipiese kenmerke van gemeentes is. Daar is niks onder die hemel wat so deur die duiwel gehaat word soos wat hy 'n gemeente haat nie. Hy sal geen steen onaangeroer laat bly om dit te beveg nie. Ons het oor en oor voorbeelde hiervan gesien. 'n Evangelis mag na 'n plek gaan en die algenoegsaamheid van die Naam van Jesus vir die verlossing van siele verkondig, en duisende mense sal aan sy lippe hang. Laat dieselfde evangelis egter terugkom en, terwyl hy dieselfde evan­ge­lie verkondig, 'n stap verder gaan en die algenoeg­saam­heid van dieselfde Jesus vir al die behoeftes van die gemeente van die gelowiges verkondig, en hy sal skielik van alle kante af weerstaan word. Waarom is dit so? Omdat die duiwel selfs die swakste uitdrukking van die gemeente van God haat.

Daar mag 'n dorp wees wat vir baie jare en geslagte lank in die donker en sieldodende roetine van vormgods­diens vasgevang was - 'n dooie gemeenskap wat een maal per week bymekaarkom om na 'n dooie preek deur 'n dooie prediker te luister, terwyl hulle die res van die week in sonde en dwaasheid lewe. Daar is nie 'n sweem­pie lewe of 'n enkele blaartjie wat roer nie. Die duiwel is uitermate in sy skik hiermee. Laat daar egter net iemand kom en die standaard van die Naam van Jesus onthul - Jesus vir die siel en Jesus vir die gemeente - en jy sal baie gou 'n dramatiese verandering sien. Die woede van die hel sal ontketen word en 'n donker en afgryslike vloedgolf van teenkanting laat opstyg.

Ons glo ten volle dat dit die rede is agter baie van die onlangse bitter aanvalle op diegene wat die beginsels van die gemeente van God handhaaf. Ons moet onge­twyfeld oor baie van die foute, dwalings en mislukkings ween. Deur dwaasheid en inkonsekwente optrede het ons baie geleenthede vir die teëstander geskep. Ons was 'n swak geskrewe brief, 'n onoortuigende getuienis en 'n flikkerende lig. As gevolg hiervan is daar diepgaande verootmoediging voor God nodig. Niks is meer ongepas as skyn en aanmatiging, of die voorhou van hoogdra­wen­de geestelike titels en aansprake nie. Ons plek is in die stof. Ja, geliefdes, dit is gepas om ons sondes voor God te bely én selfondersoek te doen.

Al het ons jammerlik gefaal om dit toe te pas, moet ons nogtans nie die verhewe beginsels van die gemeente van God laat vaar nie: die waarheid moet nie beoordeel word aan hoe ons dit uitgeleef het nie, maar moet juis as 'n maatstaf vir ons optrede in die openbaar dien. Dit is een ding om op heilige grond te staan, maar 'n ander saak om altyd welvoeglik en Bybels korrek op te tree. Terwyl dit absoluut korrek is om ons optrede volgens ons beginsels te beoordeel, geld die waarheid ten alle tye en kan ons verseker wees dat die duiwel die waarheid wat kenmerkend van die gemeente van God is, haat. 'n Hand­jie­vol arm mense wat in die Naam van Jesus byeenkom om brood te breek, is 'n doring in die sy van die duiwel. Dit is ook waar dat so 'n gemeente die toorn van mense verwek omdat dit hulle gesagstrukture en ampsdraers oorboord gooi, en hulle kan dit nie vredra nie. Nogtans glo ons dat die haat van Satan teenoor die gemeente se besondere getuienis met betrekking tot die algenoegsaamheid van die Naam van Jesus vir elke moontlike behoefte van die kinders van God, die wortel van die veldtog teen hulle is.

Hierdie is waarlik 'n edele getuienis, en ons begeer ernstig om te sien dat dit meer getrou uitgedra word. Ons kan ten volle daarop reken dat daar intense opposisie sal wees. Dit sal met ons gaan soos met die ballinge ná hulle terugkeer in die dae van Esra en Nehemía. Ons kan verwag om menige Rehu's en Sanbállat's teë te kom. Nehemía kon enige ander muur in die ganse wêreld, behalwe die mure van Jerusalem, gaan herbou het en Sanbállat sou hom nie gepla het nie. Om die mure van Jeru­salem te herbou, was egter 'n onverskoonbare oor­treding. Waarom? Net omdat Jerusalem God se aardse sentrum is waar Hy die herstelde stamme van Israel sal versamel. Dit was die geheim van die vyand se teëstand. Let op die smaad wat uit hierdie vyandigheid voortgevloei het: "As 'n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klip­muur omgooi!" (Neh. 4:3) Al wou Sanbállat en sy bond­genote met alle mag die muur afbreek, was dit vir hulle onmoontlik. Hulle mag dalk veroorsaak het dat die bouwerk aan die muur as gevolg van die Jode se gebrek aan geloof en energie gestaak word, maar toe God dit opgerig wou hê, kon hulle dit nie afbreek nie.

Hoe stem dit nie met ons situasie vandag ooreen nie! Daar is werklik niks nuuts onder die son nie. Daar is smaad, maar ook rede vir werklike alarm. O, as diegene wat in die Naam van Jesus byeengebring is, in hulle harte net meer getrou aan hulle geseënde sentrum (die gemeente) was, watter getuienis sou hulle nie kon uitdra nie! Watter krag! Watter oorwinning! Hoe sou dit nie tot almal in die omtrek spreek nie. "Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde." Daar is niks onder sie son wat oënskynlik so kragteloos en veragtelik is nie. Prys die Here dat hy in hierdie laaste dae vir Hom­self so 'n getuienis gevestig het. Mag hy die doeltreffend­heid daarvan grootliks deur die krag van die Heilige Gees verhoog!

2.3 Die krag waardeur die gemeente byeengebring word

Ons kyk nou kortliks na ons derde punt, naamlik die krag waardeur die gemeente byeengebring word. Ook hier moet die mens en sy werke eenkant toe gestoot word. Dit is nie volgens die wil van die mens dat keuses gedoen, volgens sy rede dat feite ontdek, volgens sy oordeel dat besluite geneem, of volgens sy gewete dat eise gestel word nie: dit is die Heilige Gees wat siele na Jesus toe lei. Net soos wat Jesus die enigste middelpunt is, is die Heilige Gees die enigste krag wat versamel. Die een is net so onafhanklik van mense as die ander. Dit is "waar twee of drie.vergader" word; dit is nie "waar twee of drie mekaar ontmoet" nie. Mense mag op enige gronde, deur enige invloed, rondom enige middelpunt ontmoet en 'n groep, 'n assosiasie of 'n gemeenskap vorm. Die Heilige Gees bring egter siele na Jesus op grond van redding, en dit is die beginsel van die gemeente van God.

'n Bepaalde gemeente sluit nie noodwendig al die kinders van God in die omgewing in nie, maar dit funksio­neer nogtans op die grondslag van God se gemeente - anders as ander groepe wat nie op hierdie basis berus nie. Dit mag dalk uit slegs "twee of drie" bestaan terwyl daar honderde Christene van verskillende godsdienstige stelsels rondom hulle is, en tóg sal die "twee of drie" op die grondslag van die gemeente van God wees.

Dit is 'n baie eenvoudige waarheid. 'n Siel wat deur die Heilige Gees gelei word, sal slegsHei9ligein in die Naam van Jesus saam met ander byeenkom. Indien ons vir enige ander doel byeenkom, al is dit rondom 'n punt van waar­heid, of na een of ander instelling gaan, word ons nie in hierdie saak deur die Heilige Gees gelei nie. Dit is nie 'n geval van lewe of saligheid nie. Duisende mense word deur Christus gered, maar hulle erken Hom nogtans nie as hulle Middelpunt nie. Hulle word by een of ander kerk­struktuur versamel wat op 'n geliefkoosde leerstelling berus en onder die leiding van 'n begaafde prediker staan. Die Heilige Gees sal mense nooit rondom enige van hierdie sake byeenbring nie. Hy versamel slegs rond­om die opgestane Here Jesus. Dit geld vir die ganse kerk van God op aarde, asook vir elke plaaslike gemeente, waar ook al byeengeroep, omdat almal 'n uitdrukking van die geheel moet wees.

Die krag van 'n gemeente sal baie afhang van die mate waartoe elke lid met 'n opregte hart in die Naam van Jesus byeenkom. Indien ek na 'n byeenkoms gaan waar eienaardige opinies huldig word; indien ek tot men­se of tot 'n leerstelling aangetrokke is; indien dit nie die krag van die Heilige Gees is wat my na die ware sentrum van God se gemeente lei nie, dan sal ek slegs 'n hindernis, 'n las of 'n oorsaak tot swakheid wees. Ek sal baie dinge in die groep bevraagteken. In plaas daarvan om tot hulle algemene lig en bruikbaarheid by te dra, sal ek presies die teenoorgestelde doen.

Hierdie sake is baie prakties. Dit sal eerlike selfon­der­soek verg om vas te stel wat my na 'n bepaalde ge­meente gelei het, asook die rol wat ek daar speel. Ons is ten volle oortuig daarvan dat die aard en getuienis van 'n gemeente grootliks verswak kan word deur die teen­woordigheid van persone wat nie hulle posisie en rol goed begryp nie. Sommige gaan daarheen vir die lering en seën wat hulle daar kry, omdat hulle dit op geen ander plek kan kry nie. Sommige mag kom omdat hulle van die eenvoud van die aanbidding hou. Ander is op soek na liefde. Nie een van hiedie oorwegings voldoen aan die basiese eis van die gemeente nie. Ons behoort daar te wees omdat die Naam van Jesus die enigste standaard is wat gestel word, en omdat die Heilige Gees ons daar byeengebring het.

Prediking, minder of meer kragtig, is sonder twyfel baie kosbaar, en waar dit deur God verordineer is, wil ons dit ook hê onder omstandighede waar alles reg georden is. So ook wat die eenvoud van aanbidding be­tref: ons moet seker maak dat dit eenvoudig, opreg en waar is wanneer die Goddelike Teenwoordigheid ervaar word, terwyl ons ten volle aan die leiding van die Heilige Gees oorgegee is. So ook wat die liefde betref: wanneer ons daarvoor gaan soek, sal ons sekerlik teleurgestel word, maar as ons in staat gestel word om dit te kweek en te vertoon, sal ons ver bo ons verwagting en ver­dienste ontvang. Dit sal dikwels gevind word dat daardie persone wat altyd oor 'n gebrek aan liefde by ander kla, in hulle eie liefde faal. Aan die ander kant sal diegene wat werklik in liefde wandel, daarvan getuig dat hulle tien duisend keer meer ontvang as wat hulle verdien. Laat ons onthou dat die beste manier om water uit 'n droë pomp te kry, is om 'n bietjie water daarin te gooi. Jy mag die slinger draai tot­dat jy moeg is, en dan in ergernis en ongeduld weggaan en oor die aaklige pomp kla, terwyl jy deur net 'n bietjie water daarin te gooi, 'n stroom water kon kry wat in al jou behoeftes sou vervul.

Ons het maar min begrip van wat 'n gemeente kan wees indien elkeen uitdruklik deur die Heilige Gees gelei word en slegs rondom die Here Jesus versamel word. Dan sal ons nie oor vervelige, swaar, onvrugbare of veel­eisende byeenkomste hoef te kla nie. Ons sal geen vrees vir die onheilige indringing van die menslike natuur en sy rustelose optrede hê nie - geen skyngebede, geen ge­veinsde en langdradige gesprekke nie, en geen sang net met die doel om tyd op te maak nie. Elkeen sal sy plek in die Here se onmiddellike teenwoordigheid ken - elke be­gaafde voorwerp sal vervul, toegerus en deur die hand van die Meester gebruik word. Elke oog sal op Jesus gevestig en elke hart aan Hom toegewy wees. Wanneer 'n hoofstuk uit die Bybel gelees word, sal dit wees soos die stem van God. Wanneer 'n woord gespreek word, sal dit 'n kragtige uitwerking op die hart hê. Wanneer gebede geoffer word, sal dit die siel in die teenwoordigheid van God bring. Wanneer 'n lied gesing word, sal dit die siel na God ophef en klink na die note van 'n hemelse harp. Ons moet geen vooraf opgestelde preke hê nie; geen lering of prediking deur gebede, asof ons leerstellings aan God wou verduidelik, of aan Hom 'n klomp dinge oor onsself wou vertel nie; geen gebede gemik op ons bure, waarin ons seëninge vir hulle vra wat in ons eie lewe ontbreek nie; en geen sang net ter wille van die musiek, of ongelukkigheid wanneer daar dalk 'n vals noot opklink nie. Al hierdie euwels kan vermy word. Ons behoort die ervaring te hê dat ons in die heiligdom van God is, en nou reeds 'n voorsmaak het van dit wat eendag in die hemel op ons wag.

Ons mag gevra word: "Waar sal jy al hierdie dinge op aarde aantref?" Dit is die regte vraag! Dit is een ding om die ideale toestand op papier uit te stippel, en heeltemal 'n ander ding om dit te midde van dwalings, tekortko­mings en swakhede te verwesenlik. Deur genade het som­mige van ons al iets van hierdie seëninge ervaar. Ons het al oomblikke van hemel op aarde beleef en ver­lang na meer daarvan. Mag die Here in sy groot genade die geestelike stemming van byeenkomste oral verhoog! Mag Hy ons vermoë tot meer diepgaande gemeenskap en aanbidding vergroot! Mag Hy ons in staat stel om van dag tot dag in ons private lewe só te wandel dat ons onsself en ons optrede in sy heilige teenwoordigheid sal beoordeel - dan sal ons ten minste nie soos 'n remskoen of 'n verkwister vir enige van God se gemeentes wees nie.

Selfs al mag ons nie in staat wees om in ons ervaring die ware uitdrukking van die gemeente te bereik nie, laat ons nogtans nooit met enigiets minder tevrede wees nie. Laat ons eerlik na die hoogste standaard reik, en opreg bid om tot op daardie vlak opgehef te word. Wat die grondslag van die gemeente van God betref, moet ons met volharding daaraan vashou en nooit vir 'n enkele uur van die beginsels daarvan afwyk nie. Wat die stemming en karakter van die gemeente betref, mag dit groot wisselinge vertoon en sal dit van die geloof en geestelike toewyding van die lede afhang. Wanneer die standaard laag is en die byeenkomste vrugteloos - wanneer dinge oor en oor gesê en gedoen word en diegene wat gees­telik is, aanvoel dat dit geheel en al uit plek is - laat almal wat dit kan aanvoel, sonder ophou in die geloof op die Here wag, en Hy sal hulle gebede sekerlik beantwoord. Langs hierdie weg sal die beproewings en toetse die gelukkige gevolg hê om ons meer direk op Christus te werp, wat in al ons behoeftes sal voorsien. Ons moet in enige gemeente met beproewings en stryd rekening hou, omdat dit God se metode is om ons geestelik te vorm. Die duiwel sal alle pogings aanwend om ons van hierdie heilige grond af te verdryf. Hy sal die geduld en die humeur beproef en op ontelbare maniere gevoelens seer maak - dit alles net om ons so ver te kry om die ware grondslag van die gemeente te verlaat.

Dit is goed om hierdie dinge te onthou. Ons kan slegs deur geloof op die heilige grond van God staan. Dit is die kenmerk van die gemeente van God, en onderskei dit van alle menslike stelsels. Jy kan slegs deur die geloof daar vordering maak. Indien jy graag in tel wil wees, indien jy na 'n posisie streef, indien jy die self wil verhef, hoef jy nie eers aan enige ware uitdrukking van die ge­meente van God te dink nie. Jy sal gou jou regte plek daar vind. Vleeslikheid of die grootsheid van die wêreld, in enige vorm, sal niks in so 'n gemeente tel nie. Die God­­delike Teenwoordigheid sal sulke motiewe heeltemal laat opdroog en met enige menslike pretensies klaar speel.

Verder sal jy ook nie in die gemeente kan voortgaan as jy in geheime sondes leef nie. Die Goddelike Teen­woor­digheid sal jou nie aanstaan nie. Het ons nie al dikwels in die gemeente 'n gevoel van ongemaklikheid ondervind, wat veroorsaak word deurdat ons baie dinge onthou wat die afgelope week gebeur en ons aandag ont­glip het nie? Verkeerde gedagtes, dwase woorde, vleeslike gewoontes - al hierdie dinge kom in die gedagtes op en maak die gewete wakker wanneer jy in die gemeente is! Waarom gebeur dit? Omdat die atmosfeer in die gemeente meer intens is as dit wat ons deur die loop van die week ervaar het. Ons was nie in ons persoonlike wandel so in die direkte teenwoordigheid van God nie. Ons het nie altyd onsself beoordeel nie, maar wanneer ons ons plek in die gemeente inneem, word ons harte ontbloot. Ons weë word in die lig ge­openbaar - dit is 'n proses wat in ons persoonlike lewe behoort te gebeur, maar nou vind dit eers in die gemeen­te aan die tafel van die Here plaas. Dit bewys die krag van die teenwoordigheid van God in die gemeente. In­dien harte nie só ontbloot en sonde uitgewys word nie, dan is dit 'n bewys van 'n bejammerenswaardige lae gees­­telike standaard in die gemeente. Dit is 'n goeie voorbeeld van die krag van die Heilige Gees in 'n ge­meente wanneer traak-my-nie-agtige, vleeslike, wêreld­se, hoogmoedige, geldgierige, ongedissiplineerde mense gedwing word om hulleself in die teenwoordigheid van God te beoordeel, of, indien dit nie gebeur nie, deur die geestelike atmosfeer weggedryf word. In 'n gemeente van God is daar nie vir sulke mense plek nie. Hulle kan buitekant meer vryelik asemhaal.

Ons kan nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat baie van die mense wat  die gemeente verlaat het, dit gedoen het omdat hulle lewenswandel nie in ooreenstemming met die standaarde van reinheid was nie. Vir sulke mense is dit altyd maklik om fout te vind met die gedrag en optrede van dié wat agterbly. Indien die basiese oorsaak in elke geval egter ondersoek word, sal ons vind dat baie mense die gemeente verlaat omdat hulle onwillig of nie in staat is om die ondersoekende lig daarvan te verduur nie. "U getuienisse is baie betrou­baar. Heiligheid pas by u huis, Here, tot in lengte van dae!" Boosheid moet veroordeel word omdat God dit nie goedkeur nie. Indien 'n gemeente boosheid onveroor­deeld laat voortbestaan, dan is dit hoegenaamd nie God se gemeente nie, al noem die lede hulleself ook "Chris­tene." Om voor te gee om 'n gemeente van God te wees en nie valse leerstellings en sondige dade te veroordeel nie, sal tot die godslasterlike gevolgtrekking lei dat God en boosheid saam kan bestaan. Die gemeen­te van God moet homself rein bewaar omdat dit die woonplek van God is. Baie mense is só liberaal en akkommoderend in hulle lewensuitkyk dat hulle sonde goedkeur, maar die gemeente van God kan dit nie doen nie omdat dit tot reinheid verbind is. Laat hierdie groot waarheid in ons harte insink en sy heiligmakende invloed in ons wandel en karakter voortbring.

2.4 Die gesag waarop die gemeente byeenkom

In die laaste plek sal net 'n paar woorde oor die gesag gesê word op grond waarvan die gemeente byeenkom. Hierdie gesag is die Woord van God alleen. Die karakter van die gemeente word deur die ewige Woord van die lewende en ware God bepaal - dit is nie die tradisies, die leerstellings of die gebooie van mense nie. Skrifgedeel­tes waarna ons meer as een keer in hierdie boekie verwys het, toon duidelik die standaard vir byeenkomste van die gemeente aan, die krag waardeur dit byeenkom, asook die gesag waardeur dit byeenkom: "die Naam van Jesus" - "die Heilige Gees" - "die Woord van God."

Gevolgtrekking

Die beginsels van die gemeente is oral in die wêreld dieselfde. Of ek nou na Nieu-Seeland, Australië, Kanada, Londen, Parys, Edinburgh of na Belfast gaan, die middel­punt, die krag en die gesag van die gemeente is presies dieselfde. Die enigste middelpunt is Christus; die krag om byeen te kom, is slegs dié van die Heilige Gees; en die enigste gesag daarvan is die Woord van God. Die ge­meente het geen ander eienskappe as heiligheid en 'n suiwer leerstelling nie.

Sodanig is die ware uitdrukking van die gemeente van God, en ons kan niks anders erken nie. Ons kan die heiliges van God erken, liefhê en eer waar ons hulle ook al vind; maar ons beskou menslike stelsels as oneer­biedig teenoor Christus en vyandig teenoor die ware belange van die heiliges van God. Ons verlang daarna om alle Christene op die terrein van die ware gemeente te sien. Ons glo dat dit die plek van ware seën en effek­tiewe getuienis is. Ons glo dat daar 'n besondere krag van getuienis uit die beoefening van die gemeente se be­ginsels voortkom, en dat dit nie sal voortkom wanneer die gemeente verbrokkel nie - selfs al word elke lid 'n krag­tige evangelis soos Whitefield. Ons sê dit nie om evan­ge­li­sasiewerk as minderwaardig voor te stel nie - mag die Here ons daarvan behoed. Ons sou graag wou hê dat elkeen 'n Whitefield is. Ons kan egter nie ons oë sluit vir die feit dat baie persone hulle rug op die gemeen­te draai met die verskoning dat hulle as evangeliste uitgaan nie. Wanneer ons hulle voetspore volg en die resultate van hulle werk ondersoek, vind ons dat hulle geen voor­sie­ning gemaak het vir die siele wat deur hulle bediening tot bekering gekom het nie. Dit lyk of hulle nie weet wat om met die bekeerlinge te doen nie. Hulle breek die stene uit in die steengroef, maar voeg hulle nie saam in 'n gebou nie. Die gevolg is dat siele oral verstrooi raak. Sommige maak hier en daar op 'n onvaste en ongereelde basis met ander Christene kontak, terwyl daar diegene is wat feitlik in afsondering leef. Hulle dwaal almal wat die kon­sep en terrein van die ware gemeente betref.

Ons glo dat al die bekeerlinge binne die verband van die gemeente van God moet byeenkom "in die ge­meen­skap en in die breking van die brood en in die gebede" (Hand. 2:42). Hulle behoort "op die eerste dag van die week. [te] vergader om brood te breek" (Hand. 20:7) terwyl hulle na die Here Jesus opsien om hulle deur die mondstuk van sy keuse geestelik op te bou. Hierdie is die eenvoudige weg - die normale, goddelike idee wat dalk meer geloof sal verg om dit te verwesenlik as gevolg van al die botsende en teenstrydige sektes van ons tyd. Ten spyte van al die menslike stelsels en gebruike, staan die die voorskrif van God se gemeente steeds in sy eenvoud en waarheid uit.

Laat niemand egter onder die indruk verkeer dat ons die evangelis en die gemeente in opposisie teen mekaar stel nie. Dit is hoegenaamd nie ons doel nie. Die evangelis behoort uit die boesem van die gemeente, in volle gemeenskap daarmee, gestuur te word. Hy moet nie net arbei om siele vir Christus te wen nie, maar ook om hulle by 'n gemeente in te lyf waar herders wat 'n gawe van God het, oor hulle kan waak, en leraars wat deur die Here hiervoor toegerus is, hulle kan onderrig. Ons wil nie die evangelis se vlerke knip nie, maar sy voetstappe op die regte weg rig. Ons is nie bereid om geestelike energie in onsamehangende dienswerk te sien verlore gaan nie. Dit is ongetwyfeld 'n voortreflike werk om siele na Christus te lei. Elke siel wat aan Jesus verbind word, is ewigheidswerk; maar moet die skape en die lammers dan nie byeengebring om versorg te word nie? Sal enigeen tevrede wees om skape te koop en hulle dan te los om rond te dwaal net waar hulle wil? Sekerlik nie. Die vraag is: Waar moet Christus se skape byeenkom? Is dit in krale wat deur mense opgerig is, of in 'n gemeente wat op 'n goddelike terrein byeenkom? Sonder twyfel is dit laasgenoemde. Al is die gemeente ook hoe swak, veragtelik, swartgesmeer en belaster, is dit die plek vir die lammers en kudde van Christus.

In die gemeente is daar verantwoordelikheid en arbeid vir die versorging van lede, asook die eis van voortdu­ren­de waaksaamheid en gebed. Dit is alles pligte waarvan mense sou probeer wegskram as hulle kon. Daar is baie wat aanvaarbaar en aantreklik is rondom die gedagte om die wêreld as evangelis te deurkruis, met duisende wat aan jou lippe hang, en honderde siele as die seël op jou bediening; maar wat gaan van hierdie siele word? Doen alles moontlik om aan hulle hul ware plek saam met an­der gelowiges in die gemeente van God te toon. Hier kan hulle ten spyte van die verderf en afvalligheid in kerke geestelike gemeenskap, aanbidding, en die bediening van die Woord geniet. Dit sal vele beproewings meebring en 'n veeleisende onderneming wees, soos dit ook in die tyd van die apostels was. Diegene wat werklik vir die kudde van Christus omgegee het, moes baie trane stort, uit die benoudheid van hul harte gebede opstuur en vele slapelose nagte deurbring. In al hierdie dinge het hulle egter die soete gemeenskap met die Opperherder ge­smaak; en wanneer Hy verskyn, sal hulle trane, gebede en slapelose nagte onthou en beloon word. Aan die an­der kant sal hulle wat op menslike stelsels gebou het, vind dat almal daarvan tot 'n einde gekom het om vir ewig nooit weer van gehoor te word nie. Die valse her­ders wat hulle volgelinge as 'n bron van vuil gewin gebruik het, sal hulle gesigte in ewige skaamte moet bedek.

Ons sou met hierdie paar opmerkings kon afsluit, as dit nie was vir drie verdere vrae wat soms by mense op­kom nie.

In die eerste plek mag daar aan ons gevra word: "Waar, vanaf die dae van die apostels tot in die negen­tien­de eeu, vind ons hierdie verskynsel wat jy 'n ware uitdrukking van die gemeente van God noem - en waar vind ons dit nou?" Ons antwoord hierop deur bloot na die woorde van Christus te verwys: "Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde." Vir ons maak dit min saak of Neander, Mosheim, Milner en talle ander kerkhistorici in hulle navorsing nie daarin geslaag het om, vanaf die einde van die apostoliese tydperk tot aan die begin van die huidige eeu, 'n enkele spoor van die ware uitdrukking van die gemeente van God te kon onderskei nie. Dit is heel moontlik dat daar in die donker eeue hier daar klein groepies was wat na gemeenskap van hierdie aard gesmag en waarlik in die Naam van Jesus byeen­gekom het. Wat die situasie ook al was, laat dit die waar­heid oor hierdie onderwerp onaangeraak. Dit is nie die rekords van geskiedkundiges waarop ons bou nie, maar die onfeilbare waarheid van die Woord van God. Selfs al kan daar bewys word dat daar vir 1800 jaar nie eers "twee of drie" in die Naam van Jesus byeengekom het nie, sou dit nie in enige mate die saak beïnvloed het nie. Die vraag is nie: "Wat sê die kerkhistorikus?" nie, maar: "Wat sê die Skrif?" (Die goudvelde van Australië en Kalifornië het vir duisende jare vir die mens verborge ge­bly. Maak hierdie feit die goud minder kosbaar vir die­gene wat dit later ontdek het?)

Indien daar enige krag in die argument was wat op die geskiedenis gebaseer is, sou dit ook net sowel op die kosbare instelling van die Nagmaal van die Here toe­ge­pas kon word. Wat was die geval vir meer as 'n duisend jaar lank met hierdie instelling? Dit is van een van die voortreflike elemente daarvan gestroop, in 'n dooie taal gehul en in 'n witgepleisterde graf van bygeloof begrawe, met die inskripsie: "'n Bloedlose offer vir die sondes van die lewende en die dode." Selfs in die tyd van die Hervor­ming daarna, toe die Bybel weer eens toegelaat is om die mens se gewete aan te spreek en sy lewende lig op die grafkelder te laat skyn waarin die Nagmaal begrawe gelê het, wat het toe gebeur? Watter vorm neem die Nagmaal van die Here in die Lutherse Kerk aan? Dit neem die vorm van konsubstansiasie aan. Luther het ontken dat die brood en die wyn in die liggaam en bloed van Chris­tus verander het, maar hy het ten spyte van sterk teen­kanting deur gelowiges in Switserland volgehou dat daar 'n misterieuse teenwoordigheid van Christus saam met die brood en die wyn was.

Sal ons dan nie, ten spyte van die historiese misbrui­ke, die Nagmaal van die Here vier op die wyse wat deur die Nuwe Testament bepaal is nie? Behoort ons ons aangesig na die offer van die mis te wend, of na konsub­stan­siasie, omdat die idee van die Nagmaal vir soveel eeue lank in die belydende kerk verlore gegaan het? Sekerlik nie. Wat staan ons te doen? Neem die Nuwe Tes­tament en kyk wat dit hieroor te sê het, buig in eer­biedige gehoorsaamheid voor die gesag van die Woord, dek die tafel van die Here in sy goddelike eenvoud en vier die Nagmaal op die wyse waarop ons Here en Mees­ter dit vir sy dissipels, en dus ook vir ons, ingestel het: "Doen dit tot my gedagtenis."

Weer eens mag daar aan ons gevra word: "Is dit nie totaal nutteloos om te probeer om die beginsels van die gemeente van God uit te dra, terwyl die belydende kerk in so 'n algeheel vervalle toestand is nie?" Ons antwoord deur te vra: "Moet ons ongehoorsaam wees omdat die kerk afvallig is? Moet ons aanhou dwaal omdat die dis­pen­sasie gefaal het?" Sekerlik nie. Ons moet die afval­lig­heid raaksien, daaroor ween, dit bely en ons aan­deel daarin én in die droewige gevolge daarvan, erken. Ons was ongehoorsaam en het onwaardig gewandel. Al het ons egter gefaal, het Christus nie gefaal nie. Hy bly ge­trou en kan Homself nie verloën nie. Hy het beloof om tot aan die einde van hierdie bedeling met sy volgelinge te wees (Matt. 28:20).

Die belofte oor Christus se teenwoordigheid in sy gemeentge (Matt. 18:20) is vandag net soveel van krag as byna 2000 jaar gelede toe dit uitgespreek is. "God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig" (Rom. 3:4). Ons verwerp totaal die gedagte van mense wat daarop uit is om kerke te stig en predikers te orden. Ons sien dit as aanmatigende optrede sonder 'n enkele ska­duwee van gesag uit die Woord. Dit is God se werk om sy kerk byeen te bring en predikers aan te stel. Dit is nie ons taak om vir onsself 'n kerk te stig en ampsdraers te orden nie. Die Here is sonder twyfel baie genadig, lank­moedig en vol deernis. Hy verdra ons swakhede, sien ons foute oor, en wanneer ons harte aan Hom getrou is, al is dit nog in onkunde, sal Hy ons na meer lig lei.

Ons moet egter nie die genade van die Here as 'n geleentheid vir die voortsetting van onskriftuurlike optre­des gebruik nie, net so min as wat ons die afvallig­heid van die kerk as 'n verskoning kan gebruik om dwalings goed te praat. Ons moet die afvalligheid bely, op die genade van die Here staatmaak, en in eenvoudige ge­hoor­saamheid aan sy Woord optree. Dit is die enigste weg tot seën. In die dae van Esra het die oorblyfsel van Israel nie op die prag en praal van Salomo se dae aanspraak gemaak nie, maar gehoorsaam aan die woord van Salomo se Here opgetree. As gevolg hiervan is hulle oorvloedig in hul onderneming geseën. Hulle het nie gesê: "Die stad is in puin, daarom moet ons liewer in Babilon bly en niks doen nie." Nee, hulle het eenvoudig hulle eie én hulle volk se sondes bely en net op God vertrou. Dit is presies wat ons ook moet doen. Ons moet ons aandadigheid aan die afvalligheid bely en op God vertrou om die saak reg te stel.

Laastens kan ons ook gevra word: "Waar is die ware uitdrukking van die gemeente van God nou?" Ons ant­woord is: "Waar twee of drie in die Naam van Jesus vergader." Neem duidelik daarvan kennis dat om godde­like resultate te kan bereik, daar goddelike omstandig­hede moet heers. Hierdie twee sake is ten nouste aan mekaar verbonde. Indien ons nie werklik in die Naam van Jesus byeenkom nie, het ons geen reg om te verwag dat Hy in ons midde sal wees nie; en indien Hy nie in ons midde is nie, sal ons byeenkoms 'n jammerlike gedoente wees. Dit is egter ons gelukkige voorreg om op so 'n wyse te vergader dat ons sy geseënde teenwoordigheid onder ons kan geniet. Omdat ons Hom het, het ons nie nodig om 'n nietige mens aan te stel om leiding oor ons te neem nie. Christus is Hoof oor sy eie huis, daarom moet geen sterflike mens dit waag om sy plek in te neem nie. Wanneer daar 'n byeenkoms vir aanbidding saam­geroep word, neem God die leiding daaroor. Indien ons ten volle aan Hom onderworpe is, sal die samesyn, aan­bidding en onderrig sonder enige haakplekke wees en glad verloop.[4] Alles sal lieflik in harmonie wees. Indien die vlees egter toegelaat word om op te tree, sal die Heilige Gees bedroef en uitgeblus word, en alles sal bederf wees. Die vlees moet in die gemeente geïdenti­fiseer en weerstan word, net soos wat ons dit daagliks in ons persoonlike wandel moet doen. Ons moet onthou dat net so min as wat foute en tekortkomings in die ge­meen­te as 'n argument teen die waarheid van die Goddelike Teenwoordigheid gebruik kan word, kan persoonlike foute en tekortkomings teen die waarheid van die inwo­nende Heilige Gees in die lewe van die gelowige gebruik word.

"Is julle dan sy mense?" mag iemand vra. Die vraag is nie net of ons aan God behoort nie, maar of ons op 'n goddelike terrein verkeer. Indien nie, hoe gouer ons ons po­si­sie verlaat, hoe beter. Dat daar ten spyte van al die duisternis en verwarring wél 'n goddelike terrein is, sal kwalik ontken kan word. God het nie die gelowiges gelos om in gemeenskap met dwalings en boosheid te verkeer nie. Hoe sal ons weet of ons op 'n goddelike terrein is of nie? Eenvoudig deur die goddelike Woord. Laat ons eerlik en ernstig alles waarmee ons 'n verbintenis het, aan die standaard van die Woord toets. As dit nie die toets kan deurstaan nie, laat ons dit dan onmiddellik ver­laat. Ja, onmiddelik. Indien ons sou wag om eers daar­oor te redeneer en die gevolge op te weeg, sal ons sekerlik die weg byster raak. Ons kan wél op die Here wag om duidelikheid oor sy wil te verkry, maar ons moet nooit talm om eers te redeneer nadat ons reeds die wil van die Here oor die saak vasgestel het nie. Die Here gee nooit lig vir twee treë op 'n keer nie. Hy gee aan ons lig, en wanneer ons daarop reageer, gee Hy meer lig. "Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe" (Spr. 4:18). Dit is 'n kosbare, besielende leuse: "Meer en meer." Daar word nie halt geroep en stilgestaan nie, en dus nie vol­staan by dit wat reeds bereik is nie. Dit is altyd meer, totdat ons in die volle lig van die volmaakte dag van heer­lik­heid ingelei is.

Leser, is jy reeds op hierdie goddelike terrein ver­samel? Indien wel, hou dan met jou hele hart daaraan vas. Is jy op hierdie pad? Indien wel, beur dan vorentoe met elke greintjie energie van jou morele en geestelike oortuigings. Moet nooit met enigiets minder tevrede wees as die Here se inwoning in jou en jou bewustelike nabyheid aan Hom nie. Moenie toelaat dat Satan jou van jou regmatige deel beroof deur jou by 'n naam te laat berus nie. Moet ook nie toelaat dat hy jou in versoeking lei deur jou skynbare posisie met jou werklike posisie in die Here te verwar nie. Beoefen verborge gemeenskap - verborge gebed - asook gedurige selfondersoek. Wees veral waaksaam teen enige vorm van geestelike hoog­moed. Kweek nederigheid, sagmoedigheid, 'n gebroke gees en 'n sensitiewe gewete in jou persoonlike wandel. Streef daarna om die teerste liefde met die moed van 'n leeu te kombineer wanneer jy die waarheid moet ver­kondig. Dan sal jy tot seën wees vir die gemeente van God, en 'n doeltreffende getuie van die algenoegsaam­heid van die Naam van Jesus.

[1] Die woorde "kerk" en "gemeente" kom beide van dieselfde Griekse woord, ekklesia.

[2] Daar is nie so iets soos lidmaatskap van 'n kerk in die Bybel nie. Elke ware gelowige is 'n lid van die kerk van God, wat die Liggaam van Christus is, en kan gevolglik nie ook 'n lid van enigiets anders wees nie, net soos wat my arm nie ook deel van 'n ander liggaam kan wees nie. Die enigste ware basis waarop Christene kan saamkom, word in die volgende stelling uiteengesit: "Dit is een liggaam en een Gees" (Ef. 4:4), en ook: "Omdat dit een brood is, is ons almal een lig­gaam" (1 Kor. 10:17). Omdat God verklaar dat daar "een liggaam" is, is dit teen sy wil om baie liggame, sektes, of denominasies te hê. Terwyl dit waar is dat geen gegewe aantal gelowiges op enige plek "die liggaam van Christus" of "die gemeente van God" genoem kan word nie, moet hulle nogtans op grond van daardie liggaam en daar­die gemeente byeenkom, en op geen ander gronde nie. Ons vestig die leser se aandag op hierdie beginsel, want dit geld ten alle tye, op alle plekke en onder alle omstandighede. Die feit dat die belydende kerk ten gronde gaan, beïnvloed nie die ware gemeente nie. Dit was sedert Pinksterdag opreg, dit is huidiglik opreg en sal as een liggaam opreg wees totdat die gemeente weggevoer sal word om haar Hoof en Here in die wolke te ontmoet. Alle gelowiges is deel van die lig­gaam, en hulle behoort op hierdie basis saam te kom en op geen ander nie.

[3] Die leser sal goed doen om kennis te neem van die feit dat ons in Matthéüs 16 die vroegste verwysing na die kerk het, en hier praat ons Here daarvan as iets toekomstigs. Hy sê: "Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou." Hy sê nie: "Ek het gebou" of: "Ek is besig om te bou" nie. Kortweg, die kerk het geen bestaan gehad alvorens Jesus Chris­tus uit die dood opgewek en aan die regterhand van God verheerlik is nie. Slegs toe, en nie voor die tyd nie, is die Heilige Gees gestuur om gelowiges in een liggaam te doop, of hulle Jode of heidene is, en hulle met die opgestane en verheerlikte Hoof in die hemel te verenig. Hierdie liggaam was op aarde teenwoordig vandat die Heilige Gees uitgestort is, dit is nog steeds hier, en sal hier wees totdat Christus dit na Homself toe neem. Dit is iets wat absoluut uniek is. Ons lees niks in die Ou Testament daarvan nie. Paulus sê uitdruklik dat dit nie in vorige tye geopenbaar is nie. Dit was in God verborge, en nie bekend gemaak voordat dit aan Paulus opgedra is om dit te doen nie (kyk Rom. 16:25,26; Ef. 3:3-11; Kol. 1:24-27). Dit is 'n geseënde waarheid dat God in Ou Testamentiese tye mense gehad het. Dit sluit nie net die volk Israel in nie, maar ook ander geredde, geestelike mense wat deur die geloof geleef en hemel toe gegaan het. Van die kerk word daar egter nie voor Matthéüs 16 gepraat nie, en daar slegs as iets wat nog toekomstig was. Die tydsverloop van die aardse geskiedenis van die kerk is vanaf Pinkster (Hand. 2) tot en met die wegraping (1 Thess. 4:16-17).

[4] Ons moet onthou dat daar 'n wesenlike verskil is tussen geleenthede wanneer die gemeente byeenkom om te aanbid, en die spesiale dienste wat deur die Brethren-beweging gereël word. In laasge­noem­de geval tree die evangelis of spreker in sy persoonlike hoedanigheid en in verantwoordelikheid teenoor die Here op. Dit maak ook nie saak of sulke byeenkomste in die vertrek plaasvind waar die gemeente gewoonlik byeenkom, of in 'n ander plek nie. Die gemeentelede mag, na gelang van hulle omstandighede, die byeenkoms bywoon of nie. Wanneer die gemeente egter vir aanbidding vergader, sou dit ver­keerd wees as een man, hoe begaafd hy ook al is, 'n leierskaps­posisie inneem en die aktiwiteite oorheers. Die Heilige Gees sou hierdeur uitgeblus word.

Kopiereg © 2003 deur Chapter Two, Fountain House, Conduit Mews, Woolwich, Londen SE18 7AP, Verenigde Koninkryk, ISBN 1 85307 178 1, Fountain Reeks Nr. 4

Uit die Engels vertaal deur Jaap Taljaard

Finale redigering deur prof. Johan Malan

Skrifaanhalings is uit die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel, soos in 1953 hersien.

Besoek Chapter Two se webwerf by:

http://www.chaptertwo.org.uk/

© 2003 deur Chapter Two - used by permission

Afrikaans Publikaties

Die Bybel          (Holy Bible)                               £6.50

Suiwer Goud      (Pure Gold)                       for 10 £1.00

Heart Folder                                          in preparation

Gedagtes van Goud (Golden Thoughts calendar)          £0.25

Die Ideale Vrouw (The Ideal Woman)            for 10 £1.00

Die Gemeente van God, of Die Algenoegsaamheid van die Naam van Jesus, deur C.H. Mackintosh,   printing

(The Assembly of God, or the all-sufficiency of the Name of Jesus)

Christene wat in die Naam van die Here Jesus Byeenkom printing

(Christians Gathered to the Name of the Lord Jesus)

Sample tracts available on request

 

Genesis Revolution, P.O. Box 2234, Alberton 1450, Republic of South Africa

 

Further help and a contact in your area may be obtained from:

Fountain House, Conduit Mews, London, SE18 7AP, Engeland

Tel. ++44[0]20 8316 5389, fax ++44[0]20 8854 5963

e-mail: chapter2uk@aol.com

Besoek Chapter Two se webwerf by: http://www.chaptertwo.org.uk/

Correspondence may be received in Afrikaans, Dutch and English.

Verspreiders:

  • Bible, Book and Tract Depôt, 23 Santarosa Avenue, Ryde, NSW 2112, Australia
  • The Bible House, Gateway Mall, 35 Tudor Street, Bridgetown, Barbados, WI
  • Believers Bookshelf, 5205 Regional Road 81, Unit 3, Beamsville, ON, LOR 1B3, Canada
  • Bible Treasury Bookstore, 46 Queen Street, Dartmouth, Nova Scotia, B2Y 1G1, Canada
  • El-Ekhwa Library, 3 Anga Hanem Street, Shoubra, Cairo, Egypt
  • Bibles & Publications Chrétienes, 30 rue Châteauvert, 26000 Valence, France
  • CSV, An der Schloβfabrik 30, 42499 Hückeswagen, Germany
  • Christian Truth Bookroom, Paddisonpet, Tenali 522 201, Andhra Pradesh, India
  • Words of Life Trust, 3 chuim, Khar, Mumbai, 400 052, India
  • Come and see, POB 7584, Finglass, Dublin 11, Ireland
  • Uit het Woord der Waarheid, Postbox 260, 7120AG Aalten, Netherlands
  • Bible and Book Depot, Box 25119, Christchurch 5, New Zealand
  • Echoes of Truth, No 11 Post Office Road, P.O.Box 2637, Mushin, Lagos, Nigeria
  • Kristen Litteratur, Tjǿsvoll ǿst, 4270 Åkrehamn, Norway
  • Grace and Truth Book-room, 87 Chausee Road, Castries, St. Lucia, WI
  • Beröa Verlag, Zellerstrasse 61, 8038 Zürich, Switzerland
  • Éditions Bibles et Littératture Chrétienne, 4 rue du Nord, CH 1800 Vevey, Switzerland
  • Chapter Two Bookshop, 199 Plumstead Common Road, London, SE18 2UJ, UK
  • HoldFast Blble & Tract Depôt, 100 Camden Road, Tunbridge Wells, Kent, TN1 2QP, UK
  • Words of Truth, PO Box 147, Belfast, BT8 4TT, Northern Ireland, UK
  • Believers Bookshelf Inc., Sunbury, PA 17801, USA
  • GENESIS Revolution, P O Box 2234, Alberton 1450, South Africa